Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 November 2023:

Maroela Media:

Skryf die liggaam van ‘n 33-jarige man is in die see by Heroldsbaai gevind nadat hy vermoedelik met sy motor oor die kranse by Voëlklip gestort het,

dan word berig die slagoffer van ‘n padwoedevoorval, Conrad Pretorius het ‘n skadevergoedingseis teen sy beweerde aanvaller, ‘n waarnemende regter, advokaat Roelof du Plessis by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien.

En laastens skryf die blad ‘n vrou wat in Centurion in hegtenis geneem is word na bewering verbind met die moord op vyf familielede om verskereringspolisse te eis.

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Suid-Afrika is besig om meer druk uit te oefen op Israel. Die ANC het tydens ‘n parlementêre debat aangedui hy steun die voorstel om die Israelse ambassade in die land te sluit.

# En Mail & Guardian op Vrydae:

Lei met: “ROYAL RUMBLE”. Die koerant skryf die Zulu-koning, Misuzulu kaZwelithini het volgens sy oom 13 maatskappye gestig om voordeel te trek uit die bates van die koninkryk.

GAUTENG:

# Beeld:

Berig die Instituut vir Sekerheidstudies se jongste verslag dui daarop dat Suid-Afrika tans die hoogste moordsyfer in 20 jaar het. Die misdaadkenner, dr. Johan Burger sê as iets nie gedoen word nie kan die misdaadgolf die land oor die afgrond stoot.

Tweedens skryf die koerant die Departement van Basiese Onderwys het die onderneming gegee geen matrikulant sal benadeel word as gevolg van die fout in Maandag se chemie-vraestel nie.

En laastens is daar nuus oor die Proteas se halfeind-Wêrelbekernederlaag teen Australië.

# Sowetan:

Berig die Johannesburg-munisipaliteit het tydelike hutte sonder krag of dienste opgerig vir die oorlewendes van die Marshalltown-brand. Die Menseregtekommissie sê hy gaan ondersoek instel.

# En The Citizen:

Skryf oudpresident Thabo Mbeki is steeds een van die gewildste politici in die land met oudpresident Jacob Zuma wat baie ondersteuning geniet in sekere gemeenskappe.

VRYSTAAT:

# Volksblad in Bloemfontein:

Lei ook met Suid-Afrika se moordsyfer en berig tweedens oor die probleem met die chemie-vraestel.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.

Dan skryf die koerant oor die Springbok Pieter-Steph du Toit se besonderse boodskap aan die 4-jarige serebraal-gestremde Markus du Plessis.

En laastens is daar ook nuus oor die Protea-nederlaag.

# En Cape Times:

Skryf die ANC en EFF span saam om die Israelse ambassade in die land te sluit.

En berig die polisie het ‘n derde verdagte in die Oos-Kaap in hegtenis geneem in verband met die moord op die aktivis Loyiso Nkohla op 17 April in Philippi. Die man sal Maandag in die hof verskyn.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Gary van Niekerk het na bewering probeer inmeng in die bestuur van die munisipaliteit deur opdrag te gee dat alle regsaksies onmiddellik gestaak word.

En tweedens skryf die koerant die voormalige waterpolo-afrigter van Gqeberha, David Mackenzie wat daarvan beskuldig is dat hy ‘n tienerleerder gemolesteer het, dagvaar die familie nou vir 30-miljoen-rand vir naamskending.

KWAZULU-NATAL:

# Daily News in Durban:

Skryf daar word planne beraam om van KwaZulu-Natal ‘n top-daggauitvoerder te maak.

# En The Witness in Pietermaritzburg:

Berig die hoof van Gift of the Givers se kantoor in Gaza, Ahmed Abbasi is deur Israelse magte doodgeskiet.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig sowat 800 skoolkinders in Koës het nie water om te bad, toilette te spoel of te drink nie. Volgens die inwoners het die probleem wat reeds vir jare voorkom teen September verder versleg.

En tweedens skryf die koerant die noordelike, sentrale, oostelike en suidoostelike dele van die land kan volgens die Namibiese Weerkantoor die naweek swaar reën en haelstorms verwag. In sommige dele kan ook kitsvloede voorkom.