Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Junie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die regering van nasionale eenheid is geskud deur president Cyril Ramaphosa se ontslag van die DA se adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Andrew Whitfield. Die DA-leier, John Steenhuisen sê daar is geen wettige grondslag vir die stap nie. Die koerant skryf Steenhuisen het in die Nasionale Vergadering gesê die besluit plaas Suid-Afrika se toekoms op die spel.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Skryf oor die stryd van die inheemse inwoners wat in ‘n grondgeskil gewikkel is oor die dorpe wat deur die Morawiese kerk besit word.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die polisie het ‘n nuwe plan teen ernstige misdaad onthul. Die minister van Polisie, Senzo Mchunu het in die Parlement gesê Operasie Shanela 2 sal op die top 35 misdaadbrandpunte in die land fokus.

Tweedens skryf die webblad ook oor die afdanking van Whitfield en berig oor die DA se ultimatum van 48-uur wat Steenhuisen aan Ramaphosa gestel het om van korrupte lede van die kabinet ontslae te raak. Steenhuisen sê Whitfield het in die pad van diefstal gestaan.

En laastens word berig die egpaar van Bloubergstrand wat aangekla word van die seksuele misbruik van hul twee minderjarige dogtertjies sal 25 aanklagte in die gesig staar.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf Ramaphosa het die volgehoue ​​mislukking van regeringsdepartemente om hul toegekende begrotings ten volle te gebruik, sterk gekritiseer. Hy het dit bestempel as niks minder as “verraad” teen die burgers van die land nie.

# Sowetan:

Berig daar is hernude pogings om Danny Jordaan as president van SAFA uit die kussings te lig. Vier streke wil hom verhoed om môre as voorsitter op te tree tydens die sokkervereniging se kongres.

# En The Citizen:

Skryf ook oor Steenhuisen se ultimatum en ernstige waarskuwing dat die DA die regering van nasionale eenheid sal opbreek oor die aangeleentheid.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig ook oor Steenhuisen se ultimatum van 48-uur vir Ramaphosa oor die afdanking van Whitfield.

En tweedens skryf die koerant oor die stormskade in die Wes-Kaap wat tot ‘n duisend mense raak en daar is nuus oor ‘n vrou wat ‘n graad een-leerder uit die stormwater gered het.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die GOOD-raadslid, Lawrence Troon van die Nelson Mandelabaai-metro se omstrede uitsprake het hom in die verlede reeds in die moeilikheid laat beland. In die jongste voorval het hy plofbare uitlatings oor twee hooggeplaaste sakelui op sosiale media gemaak.

En tweedens skryf die koerant Makhanda is gereed vir ‘n kreatiewe uitbarsting oor die volgende twee weke met die Nasionale Kunstefees, wat gister geopen het.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf ook oor Steenhuisen se ultimatum aan Ramaphosa.

En berig oor ‘n polisievoertuig wat aan die brand gesteek is en ‘n pasgebore baba wat in Imbali gevind is.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig president Netumbo Nandi-Ndaitwah is Sondag 100 dae in haar amp en haar prestasie word deur politieke kommentators geëvalueer. Dit is veral haar besluiteloosheid wat gekritiseer word.