Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Junie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die regering oorweeg dit om verdere waarborge aan Transnet te verskaf benewens die 51-miljard-rand wat verlede maand aangekondig is. Die koerant skryf die vrag- en spoorgroep het reeds die 47-miljard-rand wat hulle in Desember 2023 van die Nasionale Tesourie ontvang het, opgebruik.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf Johannesburgse inwoners moet in gehuggies bly terwyl hul toegekende huise na bewering deur stadsamptenare gekaap word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Oos-Kaap, Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Vrystaat is tot nasionale rampgebiede verklaar as gevolg van die wydverspreide oorstromings in die provinsies. Die dodetal in die Oos-Kaap het tot 78 gestyg.
Dan skryf die webblad adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika gaan nie weer om maatskaplike hulp by Amerika aansoek doen nie. Hy sê die land praat met sy vennote in BRICS.
En laastens word berig die oorlewende van die Indiese lugramp het vertel hoe hy die ramp oorleef het.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig die African Transformation Movement het sy president, Vuyolwethu Zungula, verwyder en die partystigter en geestelike leier Caesar Nongqunga as partyleier herstel. Volgens kenners hou dit verband met Zungula se teenkanting teen ‘n moontlike samesmelting met die MK-party.
# Sowetan:
Staan sy hele voorblad af aan die herdenking van Jeugdag Maandag. Die koerant skryf die uitdagings wat vandag se jeug die hoof moet bied, is net so werklik soos in 1976 tydens die Soweto-betogings.
# En The Citizen:
Skryf Suid-Afrikaners hou hul asems op terwyl die land se sportmanne en -vroue internasionaal in krieket, rugby en sokker meeding.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die oorstromings.
En berig die miljardêr Elon Musk se vuurpyle gaan dalk binnekort van Waenhuiskrans gelanseer word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n poging deur ‘n faksie in die National Alliance kon nie daarin slaag om met ‘n griefskrif van die party se president, Gary van Niekerk ontslae te raak nie. Daar was glo ‘n herhaling van name en vermiste bladsye in die griefskrif.
En tweedens skryf die koerant ‘n konsortium van Suid-Afrikaanse en internasionale beleggers beplan om die voormalige Fish River Sun-oord buite Port Alfred teen 600-miljoen-rand op te gradeer.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens ook oor die Indiese vlugramp.
En berig oor ‘n vrou wat daarin kon slaag om ‘n leeu te verjaag wat haar wou aanval.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die kliniese sielkundige, Shaun Whittaker sê sportweddenskappe en dobbelary het so verslawend geword dat sommige mense glo by dobbelhuise slaap. Hy sê die nuwe tendens kom veral onder die jeug voor.
En tweedens skryf die koerant die ontrekking van alle vloeibare medikasie wat deur Fabupharm Namibia vervaardig word, plaas staatshospitale en klinieke in Namibië onder druk.