Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Mei 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa en sy Amerikaanse eweknie, president Donald Trump, sal na verwagting later in Mei ‘n hoëvlak-vergadering in Washington hou met die doel om diplomatieke en handelsbetrekkinge tussen die twee lande te herstel. Die koerant skryf die Afrikaners wat as vlugtelinge in die VSA ontvang is, sal ook bespreek word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die 49 Afrikaanse vlugtelinge is hartlik ontvang op die Dulles-lughawe in Washington. Die Amerikaanse adjunkminister van Buitelandse Sake, Chris Landau en die adjunkminister van Binnelandse Veiligheid, Troy Edgar, het die groep ontmoet en gesê dis ‘n voorreg om hulle te verwelkom in die land van vryheid.
Tweedens skryf die webblad Ramaphosa gaan moontlik reeds volgende week vir Trump ontmoet. Trump het gister gesê die Afrikaanse vlugtelinge sal burgerskap ontvang.
En laastens is daar nuus oor die Prevan Pillay-moordsaak in die Hooggeregshof in Kaapstad. Uiteenlopende weergawes oor die moord en die versteking van die slagoffer se bakkie het in die hof aan die lig gekom.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die Gautengse premier, Panyaza Lesufi gaan verskeie senior amptenare afdank na onthullings van wydverspreide wangedrag en finansiële onreëlmatighede. Die stap volg nadat ‘n verdoemende verslag deur die Gautengse etiekadviesraad blootgelê het hoe hooggeplaaste regeringsfigure ver bo hul vermoë leef en onwettige saketransaksies met die staat aangaan.
# Sowetan:
Berig die Tanganani Primary School in Diepsloot het uiteindelik geopen. Daar is egter steeds bouwerk aan die gang en die skool kort elf leerkragte.
# En The Citizen:
Skryf Trump het volgens die Amerikaanse ambassade in Pretoria die vlugtelingaanbod uitgebrei na alle minderhede wat vervolg word in Suid-Afrika.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die aankoms van die Afrikaner-vlugtelinge in die VSA.
Tweedens word berig die Wes-Kaapse polisie het bevestig die geregtelike ondersoek na die dood van Markus Jooste is byna afgehandel.
En laastens is daar nuus oor die boerbok, Next Level van Griekwastad wat vir 2,3-miljoen-rand van die hand gesit is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die bekende sakeman en voormalige OP-rugbyspeler, Rob Evans het in die hof verskyn in verband met die moord op sy vriendin, Vanessa van Rensburg in Oesterbaai.
En tweedens skryf die koerant pasiënte, insluitend verwagtende moeders, het hul ontsteltenis uitgespreek oor die haglike omstandighede by openbare hospitale in die Baai. Die bykomende 10 poste wat die Departement van Gesondheid goedgekeur het, gaan volgens hulle nie veel verandering bring nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die KwaZulu-Natalse regering gaan optree teen kontrakteurs wat nie hul verpligtinge nakom teenoor die Departement van Openbare Werke nie.
En berig tweedens oor ‘n pasgebore baba wat in bosse ontdek is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n beswaarde groep in Lüderitz vra vir ‘n dringende finansiële oudit van die dorpsraad se geldsake vanaf 2014 tot 2024.
Dan skryf die koerant die Windhoek High School vat die ministerie van Onderwys, Vernuwing, Jeug, Sport, Kuns en Kultuur hof toe oor die aanstelling van die nuwe skoolhoof.
En laastens word berig die neonatale eenheid van Mediclinic in Swakopmund word na die geliefde pediater dokter Silvia Möhrchken vernoem.