Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Mei 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die VSA berei hierdie week voor om sy eerste groep wit Afrikaners uit Suid-Afrika te ontvang wat die Trump-administrasie as vlugtelinge aangewys het. Die groep sal na verwagting vandag in die VSA aankom en ontmoet word deur hoëvlak-amptenare van die Departemente van Staatsbestuur en Binnelandse Veiligheid.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens ook oor die Afrikaner-vlugtelinge wat vandag in die VSA aankom. Volgens die koerant sal hulle eers na Washington vlieg en daarna na Texas. Die Suid-Afrikaanse ministerie van Vervoer sê hulle het nog net aansoeke vir die eerste groep ontvang.
Dan skryf die koerant die 20-jarige Leighton Louw, ‘n onderwysstudent aan die Noordwes-universiteit is voor sy ouerhuis in Robertson doodgery. Hy was besig met sy praktiese proeftydperk by die plaaslike Laerskool Dagbreek.
En laastens het die webblad nuus oor Netwerk24 se bruid van die jaar.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig altesaam 54 Afrikaners het aanvanklik om asiel aansoek gedoen in die VSA, maar vyf is weens kriminele rekords geweier. Die besluit kom volgens die koerant te midde van groeiende kommer oor die wettigheid van hul eise, aangesien kritici aanvoer dat Suid-Afrika nie aan die voorwaardes voldoen wat vlugtelingbeskerming vir enige etniese of politieke groep regverdig nie.
# Sowetan:
Berig die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi sê die gebruik dat ouer mans omgang het met jonger meisies is besig om die voorkoms van MIV/Vigs te laat styg. Hy sê dit veroorsaak veral ‘n styging by ouer mense.
# En The Citizen:
Lei met: “THE START OF NEW GREAT TREK”. Die koerant skryf met die eerste Afrikaners wat vandag in Washington aankom, is daar talle vrae oor hul toekoms. Veral as president Trump oor vier jaar nie meer aan bewind is nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die dood van Leighton Louw van Robertson.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n tweeling, Corrie Laubscher en Johan Saayman, wat hul 80ste verjaarsdag gevier het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig dit het ‘n uitdaging geword om na donker in Nelson Mandelabaai rond te beweeg aangesien feitlik geen van die stad se straatligte werk nie.
En tweedens skryf die koerant ‘n verdagte gaan vandag in die hof verskyn in verband met die moord op Vanessa van Rensburg van Oesterbaai.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n seun is in die hospitaal opgeneem omdat hy na bewering vrugtesap gedrink het wat reeds verval het.
En tweedens berig die koerant ook oor Suid-Afrika se goue en bronsmedaljes by die Wêreld-afloskampioenskap in China.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Swapo se sekretaris-generaal, Sophia Shaningwa sê die regering se skamele belang van 10-persent in mynbou- en energiebedrywighede is ’n struikelblok vir betekenisvolle nasionale ontwikkeling.
Dan skryf die koerant sakeondernemings in die Karakulia-nywerheidspark in Swakopmund is reeds vir 100 dae sonder water omdat die Agentskap vir Nywerheidsontwikkeling in Namibië nie sy munisipale rekening betaal nie.
En laastens word berig die Basterkaptein, Jacky Britz sê die hoop om deur die regering as ’n tradisionele groep en as inheemse mense erken te word, beskaam nie.