Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 April 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Reserwebank het gewaarsku teen ‘n inkrimping van byna 0,7-persent in die bruto binnelandse produk indien die voorkeurhandelsooreenkoms met die VSA geskrap word te same met die instelling van tariewe. Die waarskuwing plaas groter druk op president Cyril Ramaphosa om bande met die VSA te herstel.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig opmerkings deur Suid-Afrika se Amerikaanse gesant, Mcebisi Jonas kan hom dalk in die moeilikheid laat beland. Hy het in 2020 na president Donald Trump verwys as ‘n rassis en homofoob.

Tweedens skryf die webblad die eerste sneeu van die jaar het in Lesotho geval en die komende winter kan nou nie meer uitgestel word nie.

En laastens is daar nuus oor ‘n meningsopname deur die Instituut vir Rasseverhoudinge wat daarop dui dat die DA nou gewilder is as die ANC.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf die Gautengse polisie se teen-ontvoeringstaakspan het tydens ‘n vinnige en gekoördineerde optrede twee sakemanne gered ure nadat hulle Maandag in Midrand gekaap en ontvoer is. Die vinnige reaksie is ook bespoedig deur die ontplooiing van meer polisiebeamptes in en om Johannesburg.

# Sowetan:

Berig ‘n NSFAS-begunstigde wat ingenieurswese studeer, oorleef deur tuinwerk, terwyl nog ‘n student staatmaak op voedsel wat deur gemeenskapslede geskenk word. Die koerant skryf studente op TVET-kampusse sukkel omdat die fonds sedert die begin van die akademiese jaar nalaat om toelaes vir kos en behuising te betaal.

# En The Citizen:

Skryf ‘n plaaslike hospitaal het na bewering ‘n leweroorplanting vir ‘n Zimbabwiese meisie geweier omdat sy nie die regte dokumentasie kon toon nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die Bougas-broers, Anthonie en John, dreig na bewering persone wat geld aan hulle verskuldig is met geweld. In een voorval is daar na bewering gewapende skuldinvorderaars na ‘n person se huis gestuur.

En tweedens skryf die koerant die persoon wat op die Walter Sisulu-kampus doodgeskiet is, is volgens die polisie nie ‘n student of werknemer van die universiteit nie. Die koshuisbestuurder wat na bewering die persoon geskiet het, se vrou is in die hospitaal opgeneem nadat betogers haar aangerand het.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig ná twee weke van afwagting was Ramaphosa se besoek aan Nelson Mandelabaai teleurstellend. Hy het agter geslote deure vergader, het op ‘n boot gaan rondvaar en nie die media se vrae beantwoord nie.

En tweedens skryf die koerant die koshuisbestuurder van die Walter Sisulu-universiteit wat na bewering ‘n persoon geskiet het, moes ná die voorval saam met sy gesin deur die polisie gered word.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf Lesotho het ingestem om ‘n lisensie aan Elon Musk toe te staan ​​om sy satelliet-internetdiens, Starlink in die land te bedryf. Die diens is in ten minste 20 lande op die vasteland beskikbaar, maar nie in Suid-Afrika nie.

En tweedens word berig die KwaZulu-Natalse LUR vir Paaie, Xolile Nqatha sê hulle is gereed om die provinsie se padnetwerk reg te ruk.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig gemeenskappe langs die Kavangorivier is op ‘n gereedheidsgrondslag vir moontlike oorstromings. Terwyl die rivier met nog bykans sewe meter kan styg, is dit reeds besig om in die noorde te sak.

En tweedens skryf die koerant kletsrymers is gereed om op Rehoboth te “rap” en te hip-hop.