Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 31 Maart 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George sal vandag ’n verreikende aankondiging doen oor Eskom se aansoek om vrystelling van minimum emissiestandaarde by agt van sy steenkoolkragstasies.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie het gisteraand op sy Facebook-blad verklaar dat die vermiste Joshlin Smith steeds leef.

Dan skryf die webblad die DA sê hy sal oor sy posisie in die regering van nasionale eenheid moet herbesin indien die regering steun vir die begroting buite die koalisie vind.

En laastens word berig die nasionale uitvoerende komitee van die ANC het besluit Suid-Afrika moet alles in sy vermoë doen om betrekkinge met die VSA te beskerm.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf die Johannesburgse burgemeester, Dada Morero het ingetree in die herbenoeming van Sandtonrylaan na Leila Khaled-weg. Hy het dit terugverwys vir opnbare insette.

En tweedens word berig die VSA het hul samewerkingsbande met die Suid-Afrikaanse weermag ingekort.

# Sowetan:

Berig drie werknemers van die Sedibeng-voertuiglisensiëringsdepartement het na bewering 4,5-miljoen-rand in net vier dae gesteel en is later slegs oor die vingers getik tydens ‘n interne tugverhoor. Die Padverkeerbestuurskorporasie het nou die Valke betrek om die munisipale bestuur se beweerde betrokkenheid by die diefstal te ondersoek.

# En The Citizen:

Skryf oor die uitslag van ‘n studie deur die Universiteit van Johannesburg wat bevind het dat daar gevaarlike kankervormende chemikalieë aanwesig is in die Kliprivier. Sestig-persent van die land se riviere is in ‘n haglike toestand.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met die dood van die 23-jarige Tylo Johean Afrikaner van Tygerberg kort nadat hy ‘n hou teen die kop gekry het tydens ‘n rugbywedstryd.

En tweedens word berig ‘n motorbestuurder wat na bewering onder die invloed bestuur het, is in hegtenis geneem nadat hy glo twee drawwers van die pad af gery het in Victoriaweg in Bantrybaai. Een van die drawwers, ‘n vrou, is in ‘n ernstige toestand.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig verbrokkelende infrastruktuur, kragonderbrekings en ‘n gebrek aan sekuriteit het ‘n negatiewe uitwerking by skole tydens die vakansie. Met die toename in vandalisme het sommige skole waghonde by die skole ontplooi.

En tweedens skryf die koerant daar was die afgelope twee weke vyf slagoffers op die berugte R-75 wat Gqeberha met Kariega verbind.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf oor die dood en verwoesting ná die aardbewing in Mianmar.

En berig oor ‘n gesin langs die N3 wie se huis telkens onder oorstromings deurloop.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Namibiese polisie het bevestig dat hy ondersoek instel na bewerings van die verkragting van ’n meisie wat 16 jaar oud was ten tyde van die beweerde voorval.

Dan skryf die koerant die /Khomanin Tradisionele Gemeenskap het die naweek hul voorvadergrond teruggeëis, 69 jaar ná hul gedwonge verwydering.

En laastens word berig die ministerie van die Omgewing en Toerisme het die publiek gewaarsku om nie selfies saam met wilde diere te neem nie.