Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Maart 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die meeste politieke partye in die Nasionale Raad van Provinsies het ‘n pleidooi gelewer dat die KwaZulu-Natalse Ithala Bank gered moet word. Die partye sê die bank is ‘n instrument vir gelyke toegang tot finansiering, ontwikkeling en geleenthede.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Presidensie sê die Kill-the-Boer-kwessie is in die howe afgehandel en indien AfriForum steeds ontevrede is, kan hulle terugkeer hof toe. Dit volg nadat AfriForum vir president Cyril Ramaphosa gevra het om standpunt in te neem teen die liedjie.
Vervolgens skryf die webblad die sewejarige Johandré Blom wie se arm deur ‘n krokodil by die Roodekopjesdam buite Brits afgebyt is, is wakker en hoewel hy pyn het, sterk hy goed aan.
En laastens word berig minstens twee mense het aangebied om die agt weke oue Caithlyn Ferreira aan te neem omdat beide haar ouers dwelmslawe was. Die ouers het egter geweier en Caithlyn se pa, Hugo het nou in die hof erken dat hy haar verkrag en vermoor het.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf regskenners is van mening dit is Julius Malema se reg op vrye spraak, soos vervat in die Grondwet, wat hom die reg geee om Kill-the-Boer te sing.
En berig die Amerikaanse betrokkenheid in Suid-Afrika het vrae laat ontstaan oor banke se reg om rekenings eensydig te sluit.
# Sowetan:
Berig die voormalige SAL-raadslid Kwinana Ntombiyakhe het in die hof getuig sy het geen bates nie. Sy beweer die plaas waarop die mense woon wat haar van afpersing beskuldig, is ‘n familie-ondernemning en sy is slegs die sekretaresse.
# En The Citizen:
Skryf oor die 40ste herdenking vandag van die Westdene-busramp in Johannesburg waarin 42 skoolkinders omgekom het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die Kill-the-Boer-liedjie.
Dan word berig die afskaffing van die verbod op die verkoop van daggaprodukte is allerweë verwelkom.
En laastens skryf die koerant ook oor Johandré Blom wat sy arm in ‘n krokodilaanval verloor het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Oos-Kaapse LUR vir Samewerkende Regering, Zolile Williams het die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit beskryf ‘n verleentheid. Die munisipaliteit het volgens hom agteruitgegaan.
En tweedens skryf die koerant daar heers spanning in die Nelson Mandelabaai-begrotings- en tesouriekomitee nadat die waarnemende stadsbestuurder, Sizwe Mvunelwa ‘n spreekbeurt geweier is deur die portefeuljevoorsitter, Khanya Ngqisha.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook die verbod wat ingestel is op die verkoop van dagga-produkte is opgehef.
En berig die Kwazulu-Natalse provinsiale regering sê die provinsie is gereed om sake te doen.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n ma dagvaar die ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste nadat ‘n suurstoftekort na bewering tot haar seun se permanente breinskade gelei het. Die kind is intussen dood.
Dan skryf die koerant kenners is dit eens dat die Rooilyn geherstruktureer moet word om boere in staat te stel om diere en vleisprodukte te vervoer wanneer daar geen uitbrekings van bek-en-klouseer is nie.
En laastens word berig vandag is begrotingsdag in Namibië en die nuwe minister van Finansies sal waarskynlik moet voortbou op die werk wat haar voorganger met die voorbereiding van die nasionale begroting gedoen het.