Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 Maart 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau sê onderhandelinge met die beleërde staalvervaardiger ArcelorMittal SA gaan voort met die hoop dat ‘n ooreenkoms om die onderneming te red hierdie week bereik sal word. Die regering het ingegryp om drie-duisend-500 werksgeleenthede te red.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die sogenaamde Kosmos-moordenaar, die 63-jarige Paul Prinsloo, is tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moorde op sy gewese vrou Magdaleen Weideman en haar dogter Ruzanne.

Dan skryf die webblad ‘n Belgiese fietsryer, Ronny Raeymakers wat aan die Cape Epic-fietstoer deelgeneem het, is dood nadat hy tydens die wedren sonsteek opgedoen het.

En laastens word berig president Donald Trump het opdrag gegee dat ‘n “lelike” skildery van hom uit die wetgewergebou in Colorado verwyder moet word.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf die leier van die Living Waters Church, biskop Bafana Stephen Zondo sal op 9 April weer in die hof verskyn om te antwoord op ten minste tien aanklagte van verkragting en seksuele aanranding. Zondo het tot dusver beweer die klagtes teen hom is net om hom te beswadder.

En tweedens word berig die DA het gewaarsku dat eiendomsbelasting in Tshwane in die vogende boekjaar die hoogte sal inskiet.

# Sowetan:

Berig ‘n interne ondersoek het aan die lig gebring hoe die moordbeskuldigde, Rassie Nkuna verkeerdelik op parool vrygelaat en nie gemonitor is nie. Hy het na bewering ná sy vrylating nog moorde gepleeg.

# En The Citizen:

Skryf die land se oorvol gevangenisse is deels die gevolg van verhoorafwagtende gevangenes vir geringe misdade wat nie borgtog kan bekostig nie. Die vraag is wie kan verantwoordelik gehou word om die borgtog te betaal.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met die dood van die Belgiese fietsryer en berig ook oor Trump se skildery.

En dan skryf die koerant oor die 24-jarige Wally Jonkers van die Paarl wat op sy verjaarsdag dood is nadat daar ‘n bakleiery oor geld uitgebreek het.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die Gqeberha-prokureursfirma Kaplan Blumberg het die familieprokureur Lizette Ferns hof toe geneem om ‘n handelsbeperkingsklousule af te dwing. Die firma is bang dat sy Kaplan se kliënte sal stroop.

En tweedens skryf die koerant oor die gerestoureerde St Peter’s Church wat as projek van die Mandelabaai-ontwikkelingsagentskap afgehandel is.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die moontlikheid om meer raadslede in die Msunduzi-munisipaliteit aan te stel het ernstige kritiek ontlok.

En tweedens berig die koerant oor die jongste skolesportnuus in Pietermaritzburg.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig daar is ernstige skade aangerig tydens ‘n oefening deur die nasionale weermag by die Onafhanklikheidstadion in Windhoek. Daar is onder meer gruis in die verspringput en skeure in die atletiekbaan.

Dan skryf die koerant die inwoners van Okahandja was weer vir etlike dae sonder water nadat ‘n pyp gebars het.

En laastens is daar nuus oor ‘n ma van vier wat kapana en vetkoek verkoop het om ‘n huis vir haar gesin te bou.