Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Maart 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Finansies, Enoch Godongwana se besluit om BTW met 0,5-persent te verhoog kan nie voor die instelling daarvan in die hof getoets word nie. Dit sal moet gebeur nadat die begroting aanvaar is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die likwidasie-aansoek teen die Kleuterzone Groep van Skole is toegestaan en dit het in die Hooggeregshof in Pretoria aan die lig gekom die groep skuld sowat 130-miljoen-rand. Daar is ook aangevoer die beleggingskema toon ooreenkomste met ‘n ponzi-skema.
Dan skryf die webblad oudambassadeur Douglas Gibson sê Ebrahim Rasool is ‘n verleentheid vir die land en hy moet Suid-Afrika om verskoning vra.
En laastens word berig president Donald Trump het die lyfwagte van oudpresident Joe Biden se seun, Hunter en sy gesin wat tans in Suid-Afrika vakansie hou, opgeskort.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf volgens die WGO staar agt lande, insluitend sewe in Afrika, ‘n MIV-behandelingskrisis in die gesig weens befondsingsbesnoeiings van die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling. President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika sal by ander bronne gaan aanklop vir hulp.
En tweedens word berig kenners sê die erfenis van bantoe-onderwys leef steeds voor in landelike en township-skole en skep ‘n agterstand.
# Sowetan:
Berig ‘n voormalige SAL-raadslid, Yakhe Kwinana het in die hof verskyn op aanklagte van kwaadwillige saakbeskadiging en die rig van ‘n vuurwapen. Huurders wat op haar grond woon, het haar beskuldig van intimidasie om huurgeld in te samel.
# En The Citizen:
Skryf hoewel die Gautengse regering ‘n begroting van 527,2-miljard-rand ingedien en baie beloftes gemaak het, sê die DA hy gaan die regering hou by dienslewering.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die president van die Suid-Afrikaanse Sakekamer in die VSA, Neil Diamond het die besonderhede van sowat 70-duisend Suid-Afrikaners wat reeds aansoek gedoen het om vlugtelingstatus in Amerika aan die Amerikaanse ambassade in Pretoria oorhandig.
En tweedens skryf die koerant drie liggame, waaronder dié van ‘n babameisie, is uit die lykshuis in Kuruman in die Noord-Kaap gesteel.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig in die eerste twee maande van 2025 het die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit 958 telefoniese klagtes oor stukkende straatligte ontvang, maar net 43 is herstel.
En tweedens skryf die koerant dit is slegs ‘n maand voor die nasionale lewensreddingskampioenskap by die Koningstrand Lewensreddingsklub aangebied gaan word, maar die klub is in ‘n haglike toestand.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens twee gewapende mans het ‘n laerskoolonderwyser voor haar leerders en kollegas by die Phikiswayo Primary School in Ntuzuma, noord van Durban doodgeskiet.
En tweedens word berig Greytown het begin met opruiming na oorstromings skade aangerig het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië se onbeheerde groei van die robbevolking is ’n regstreekse gevolg van kwotahouers wat net daarop fokus om bulle vir hul geslagsdele te oes.
Dan skryf die koerant een van die laaste sake op die agenda van die Namibiese sewende Parlement is om vandag die omvattende nuwe Wetsontwerp op Grond te debatteer.