Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Maart 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in die VSA, Ebrahim Rasool, sal na verwagting die week terugkeer huis toe nadat hy deur die Trump-administrasie uitgesit is. Rasool, wat in Januarie vir ‘n tweede termyn as die land se topdiplomaat na die VSA teruggekeer het, is Vrydag 72 uur gegun om die land te verlaat nadat hy deur die minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, tot persona non grata verklaar is.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens president Cyril Ramaphosa is van plan om die bande tussen die VSA en Suid-Afrika te herstel aangesien dit uiters negatief is in die jaar wat die land die G20-beraad aanbied. Die Presidensie sê Ramaphosa gaan aktief by Amerika betrokke bly.

Dan skryf die webblad oor ‘n veeboer van Westonaria, Adriaan Vos wat ‘n plaasaanval oorleef het nadat hy drie keer geskiet en sy huis aan die brand gesteek is.

En laastens is daar nuus oor die gedenkdiens vir die skrywer en akteur Crystal-Donna Roberts wat aan kanker oorlede is.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf Rasool word in die oë van baie Suid-Afrikaners as ‘n held beskou, maar die land se deelname aan AGOA het nou ‘n ernstige kwessie geword.

En berig daar is talle vrae oor die aanstelling van die voormalige beeldpoetser van die Vrystaatse Departement van Kleinsake, Toerisme en Omgewingsake, Kgotso Tau as waarnemende uitvoerende hoof van die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie.

# Sowetan:

Berig ‘n agtjarige kind het die veroordeelde moordenaar, Rassie Nkuna in die hof uitgewys as die man wat sy ouers voor hom doodgeskiet het. Nkuna dien reeds lewenslange tronkstraf uit vir die moord op sy meisie en haar suster.

# En The Citizen:

Lei met: “RASOOL THROWN UNDER THE BUS?” Die koerant skryf Ramaphosa het besluit om geen stappe teen die VSA te doen nadat Rasool teruggestuur is huis toe nie. Kenners meen dit spreek boekdele.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei ook met die presidensie se pogings om die bande met die VSA te herstel.

Dan word berig oor ‘n pa en drie tieners wat sewe uur lank in digte mis aan die romp van hul omgeslane bood in die see by Hawston vasgeklou het totdat die Seereddingsinstituut van Hermanus hulle gered het.

En laastens skryf die koerant die Parlement se YouTube-kanaal is deur ‘n kriptodiens gekaap om vals advertensies te plaas.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig eerstens oor ‘n taxi-ongeluk by die Nelson Mandela-universiteit gisteroggend toe die voertuig tussen ‘n klomp studente ingejaag het. Een persoon is dood en tien beseer waarvan een ernstig.

En tweedens skryf die koerant dagga-kleinhandelaars in Gqeberha is onseker oor wat hul te doen staan nadat die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi ‘n verbod op die verkoop, vervaardiging en invoer van voedselprodukte wat dagga bevat afgekondig het.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die KwaZulu-Natalse Departement van Gesondheid veg terug teen die talle eise wat teen die departement ingestel is.

En tweedens word berig ‘n ma en kind is doodgeskok deur ‘n onwettige elektriese verbinding.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste het ontken onbewoonde eenhede in twee staatsbeheerde tehuise vir bejaardes in Windhoek staan reeds jare lank leeg.

Dan skryf die koerant die Teenkorrupsiekommissie van Namibië ondersoek bewerings van korrupsie teen die uitvoerende hoof van die Lüderitz Waterfront Development Company, Fluksman Samuehl.

En laastens word berig ‘n Namibiese geoloog waarsku die in situ-loging-ontginning van uraan in die drinkwater van die Stamprietkom mag nie toegelaat word nie.