Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Amerikaanse president Donald Trump het Suid-Afrika se MIV/vigs-organisasies en wetenskaplikes ‘n gevoelige slag toegedien toe hy die toelaes van die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling met onmiddellike effek herroep het. Gesondheidsaktiviste waarsku dat die land die risiko loop om sy deurbrake teen die MIV-epidemie te verloor as die regering nie onmiddellik optree nie.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf beide die ANC en die MK-party gaan gebuk onder interne faksiegevegte. Die koerant skryf oor die ANC se verdeeldheid in KwaZulu-Natal en MK-lede se ongelukkigheid met die party se hoofsweep, Mzwanele Manyi.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Cyril Ramaphosa sê die Amerikaanse besoek van Solidariteit en AfriForum dra net by tot verdere verdeling in die land. Hy sê Suid-Afrika sal nie ‘n nasie bou as ons na ander lande hardloop om te kla nie. Die webblad skryf die EFF dring daarop aan dat Solidariteit en AfriForum tot terroristeorganisasies verklaar word.
Tweedens skryf die blad die Noord-Kaap en Kalahari het broodnodige reën ontvang maar die droogte is nog nie gebreek nie.
En laastens is daar nuus oor die skaak-ikoon Boris Spassky wat op 88 oorlede is.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die VSA se opskorting van fondse vir MIV/vigs-organisasies kom op niks meer as volksmoord neer nie.
En tweedens berig die koerant die regering het dit duidelik gestel dat geen uitstel verleen gaan word aan kleinsakeondernemings wat nie teen vandag geregistreer is nie.
# Sowetan:
Berig vandag is die spertyd vir spazawinkels om te registreer en in Gauteng het slegs sowat 10-persent die proses voltooi. Die polisie sê munisipaliteite was nie in staat om die proses te bestuur nie.
# En The Citizen:
Skryf oor ‘n lugramp wat afgeweer is toe FlySafair vlug 268 amper in suikerrietlande neergestort het. Die koerant berig daar is vrae oor die tydige aanmelding van die ernstige voorval.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met diselfde hoofberig as Netwerk24 oor Solidariteit en AfriForum se Amerikaanse besoek.
Dan skryf die koerant oor die 17-jarige Kirsty George van Retreat wat doodgeskiet is toe sy ‘n man wat ‘n opmerking oor haar swangerskap gemaak het, afgejak het.
En laastens is daar nuus oor die skoolkalender vir 2026 wat in die Staatskoerant gepubliseer is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe sê daar sal gevolge wees nadat die 2025/2026-aanpassingsbegroting nie Donderdag in die raad ter tafel gelê is nie.
En tweedens skryf die koerant Oos-Kaapse staatsamptenare dreig gastehuiseienaars om die waarde van etes wat by die verblyf ingesluit is in kontant aan hulle te betaal.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Zoeloe-koning Misuzulu kaZwelithini het homself ten sterkste uitgespreek teen geslagsgeweld in KwaZulu-Natal.
En berig vier volwassenes in die provinsie het nou ook hand-voet-en-mondsiekte nadat dit aanvanklik slegs onder kinders voorgekom het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig nog inhegtenisnemings word verwag buiten die vyf mense wat glo ’n plaaslike vismaatskappy bedrieg het deur voor te gee hulle vestig ‘n opleidingsinstituut ter waarde van sowat 30-miljoen-rand.
Dan skryf die koerant daar is talle vrae oor Swakopmund se voorgestelde visskoonmaakgeriewe.
En laastens is daar nuus oor 12 jong Namibiërs wat Sondag vertrek om opleiding aan boord van ’n MSC-passasierskip te ontvang.