Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 Februarie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig in ‘n stap wat daarop gemik is om verdere diplomatieke spanning tussen Suid-Afrika en die VSA te vermy, het president Cyril Ramaphosa die afwesigheid van belangrike Amerikaanse amptenare by die G20-vergaderings afgemaak en daarop aangedring dat dit nie ‘n teken van ‘n boikot is nie.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Lei met: “GUESS WHO’S COMING TO DINNER?” Die koerant skryf terwyl Donald Trump sy aanslag op Oekraïne verhoog, het Ramaphosa president Volodymyr Zelensky vir ‘n staatsbesoek genooi.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens oor die verwoesting wat die gure weer in sommige dele van die land veroorsaak het. Die blad skryf ses mense is dood in Kwazulu-Natal, in Klerksdorp moes mense huise ontruim en in Limpopo het ‘n damwal gebreek.

En tweedens skryf die blad oor die chaos wat op die kampus van die Universiteit Stellenbosch uitgebreek het toe studente oor huisvesting en studieskuld betoog het.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf die Spesiale Ondersoekeenheid wil optree teen ten minste 12 maatskappye wat 93-miljoen-rand ontvang het vir ‘n 500-miljoen-rand-projek om ’n Gautengse hospitaal op te knap wat deur die provinsiale regering tydens die Covid-19-pandemie gehuur is.

En tweedens word berig die regering is van plan om 1,03-duisend-miljard-rand oor die mediumtermyn-bestedingsraamwerk aan infrastruktuurprojekte deur staatsondernemings en staatsdepartemente te bestee.

# Sowetan:

Berig ook oor die sterftes en wydverspreide skade na aanleiding van die gure weer in KwaZulu-Natal en Noordwes die afgelope week. Die koerant het ook aangrypende foto’s van die vloedskade.

# En The Citizen:

Lei met: “VAT ATTACK WILL HURT ALL.” Die koerant skryf diegene wat nog nie honger gaan slaap het nie, sal nie weet wat die uitwerking van ‘n twee-persent verhoging in BTW op arm mense gaan wees nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig eerstens oor die Kotze-egpaar van Wellington wie se huis deur die veldbrande in die gebied in puin gelê is. Hulle het op die Langkloof-roosplaas gewoon.

En tweedens skryf die koerant die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het Elon Musk op X aangevat oor die werklike situasie in Kaapstad. Musk het kommentaar gelewer oor hoe onveilig Suid-Afrika is.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die beeste van die Colchester-gemeenskap is deur veediewe geslag.

En tweedens skryf die koerant die Motherwell-sakegemeenskap is gekant teen die verskuiwing van die inwoners van die Nomakanjani informele nedersetting aangesien die stap betogings en chaos gaan veroorsaak.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf ook ses mense het reeds omgekom in die gure weer in KwaZulu-Natal.

En berig die IVP het ‘n beroep op die regering gedoen om uitgawes te sny eerder as belasting te verhoog.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Amerikaanse regering het nie net fondse vir buitelandse humanitêre programme gevries nie, maar ook die geld aan internasionale biodiversiteitsbewaring opgeskort, wat ’n reuse-uitwerking op omgewingsbewaring en die bekamping van wildmisdaad in Namibië het.

En tweedens skryf die koerant die Erongo-streekraad benodig nog sowat 1,2-miljoen-rand om die Ozondati-Omatjete-waterpypleiding te voltooi nadat die aanvanklike kosteberaming te kort geskiet het.