Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Parlement het gister vir die eerste keer Suid-Afrika se nasionale begroting uitgestel. Dit volg nadat kabinetslede van die regering van nasionale eenheid die minister van Finansies, Enoch Godongwana se plan om BTW van 15- tot 17-persent te verhoog, verwerp het. Die begroting is uitgestel tot 12 Maart.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die ekonoom Dawie Roodt het die uitstel van die begroting as ‘n oorwinning vir Suid-Afrikaners beskryf. Hy sê dit is die eerste keer dat daar aanduidings is dat die regering van nasionale eenheid werk.
Dan skryf die webblad oor die wydverspreide reën en oorstromings wat oral in die noorde van die land voorgekom het. Die inwoners langs Schoonspruit in Klerksdorp berei tans voor om hul huise te midde van stygende water te ontruim.
En laastens gee die blad ‘n oorsig van die geskrapte begroting wat nooit ter tafel gelê is nie.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf Godongwana se aankondiging het skokgolwe deur die markte gestuur en die waarde van die rand ook beïnvloed.
En tweedens word berig die regering van nasionale eenheid word gekritiseer vir die uitstel van die begroting.
# Sowetan:
Berig ontleders is van mening die uitstel van die begroting is nadelig vir die ekonomie en skadelik vir die publiek se vertroue in die regering van nasionale eenheid.
# En The Citizen:
Lei met: “BUDGET: WHAT’S GOING ON?” Die koerant stel ondersoek in na die redes wat tot die uitstel gelei het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die uitstel van die begroting.
En tweedens berig die koerant die 82-jarige Hendrik Sass van Calvinia is dood toe ‘n mak swartwildebees hom gegaffel het. Sass was bekend as ‘n bobaas-draadspanner in die Noord-Kaap.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ook oor die uitstel van die begroting.
En skryf die Gqeberha-polisie ondersoek ‘n saak van bedrog nadat 71 voormalige matrieks tienduisende rande verloor het in wat hulle beweer bedrieglike tutor-klasse was.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar is oor die algemeen ongelukkigheid en ongeloof oor die uitstel van die nasionale begroting.
En berig die spertyd vir spazawinkels om te registreer is om die draai.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig 30 mobiele klinieke, 60 volledig toegeruste ambulanse, 813 mediese spesialiste en sewe nuwe en opgegradeerde geestesgesondheidsentrums is deel van Swapo se lugkastele vir Namibië se openbare gesondheidstelsel.
En tweedens skryf die koerant Swakopmund se buurtwag staar ’n krisis in die gesig wat die organisasie kan dwing om sy bedrywighede teen die einde van die jaar te staak.