Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 November 2023:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Nasionale Kernreguleerder, wat moet besluit oor Eskom se aansoek om die bedryfsduur van die Koeberg-kernkragstasie met 20 jaar te verleng, sal in Februarie ’n nuwe rondte openbare verhore hou.

GAUTENG:

# Beeld:

Berig oor AfriForum se jaarlikse Blou- en Groendruppelverslag wat daarop dui dat 90-persent van die dorpe landswyd water verkry van bronne waarin verwerkte rioolvuil gestort word. Altesaam 334 van die land se 850 rioolaanlegte is egter in ‘n kritieke swak toestand.

Voorts is daar ‘n berig oor die DA se betoging oor die gebrek aan watervoorsiening in Gauteng.

En laastens skryf die koerant die 35-jarige Lukusa Cedric Kabeya is op borgtog vrygelaat nadat hy twee mense by die Woodhill-landgoed aangerand en ‘n werker in die hand geskiet het. Kabeya is ‘n inwoner van die spoglandgoed.

# Sowetan:

Berig oor Maqala Mohapi wat na bewering miljoene rand verdien het deur ‘n vals Eskom-outomaat te bedryf wat elektrisiteitskrediete en koopbewyse verskaf het.

# En The Citizen:

Skryf die Gautengse premier Panyaza Lesufi het in ‘n “kroeggeveg” betrokke geraak toe hy verklaar het die uitreiking van dranklisensies moet gestaak word om dwelmgebruik te bekamp.

VRYSTAAT:

# Volksblad in Bloemfontein:

Berig die boer van Vioolsdrif wat aangekla word van die moord op sy twee vriende, Japie Claassens is gister borgtog toegestaan in die Streekhof in Springbok. Claassens staan tereg vir die moorde op Coenie de Beer van Knysna en James Kriel van Baardskeerdersbos en die saak word op 13 Desember hervat.

En tweedens skryf die koerant die Protea-kaptein, Temba Bavuma het erken sy span is senuweeagtig oor vandag se halfeindstryd teen Australië.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Het dieselfde hoofberig as Volksblad.

En tweedens is daar nuus oor die 21-jarige Marius Fielies van Atlantis wat nie wil erken hy is ‘n held nie, selfs nadat hy twee laerskoolkinders in die swembad van die Ou Skip-oord in Melkbosstrand gered het.

# En Cape Times:

Skryf Skoor het in die Parlement gehoor die voormalige bestuurshoof van Eskom, André de Ruyter se verslag oor bedrog by die elektrisiteitsvoorsiener is gegrond op stratkom eerder as feite.

En berig tweedens ook oor die Proteas se kanse om Australië te klop.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die Bitou-munisipaliteit in die Tuinroete is besig om met sakeondernemings te onderhandel om werksgeleenthede vir inwoners te skep.

En skryf ‘n winkelsentrum in Gqeberha is op soek na ‘n man met ‘n boepie en ‘n baard om die rol van Kersvader te vervul gedurende Desember.

KWAZULU-NATAL:

# Daily News in Durban:

Skryf die voormalige burgemeester van eThekwini, Zandile Gumede het na bewering in trane uitgebars in die hof toe die bedrogsaak teen haar en ander beskuldigdes vir die soveelste keer uitgestel is. Dit volg nadat een van die regsverteenwoodrigers, advokaat Jay Naidoo onttrek het.

# En The Witness in Pietermaritzburg:

Berig oor ‘n rotteplaag in ‘n plaaslike regeringsgebou,

en berig die Proteas probeer kalm bly vir vandag se halfeindstryd.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Namibiese Kabinet het die nuwe hervestigingsbeleidsriglyne goedgekeur wat van 2023 tot 2033 geldig sal wees. Dit maak voorsiening vir die moontlikheid om op wildplase te boer.

En tweedens skryf die koerant die vermoorde direkteur en adjunkdirekteur van die Namibiese Instituut vir Mynbou en Tegnologie, Eckhardt Mueller en Heimo Hellwig het dikwels onbaatsugtige bydraes tot gehalteonderrig in Namibië gelewer.