Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Julie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig president Cyril Ramaphosa het ‘n regterlike kommissie van ondersoek aangestel om die plofbare bewerings te ondersoek dat misdaadelemente die polisie, vervolgingsgesag en intelligensiedienste geïnfiltreer het. Hy het ook die polisieminister Senzo Mchunu onmiddellik op verlof geplaas. Die koerant skryf die kommissie van ondersoek staan onder leiding van waarnemende adjunkhoofregter Mbuyiseli Madlanga.

# En die Netwerk24-webblad:

Lei ook met Ramaphosa se aankondigings gisteraand. Die koerant berig die leier van die DA, John Steenhuisen sê die president het bloot net weer sy verantwoordelikheid afgeskuif na ‘n kommissie.

Dan gee die koerant ‘n volledige oorsig oor professor Firoz Cachalia van die Universiteit van die Witwatersrand wat as waarnemende minister van Polisie aangestel is.

En laastens is daar nuus oor die 23-jarige Italianer, Jannik Sinner se segetog by Wimbledon.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf eerstens ook oor die nuus dat Ramaphosa nóg ‘n kommissie van ondersoek aangestel het.

En tweedens word berig ‘n ondersoek is van stapel gestuur nadat ‘n gesin van vyf in ‘n hut in die Olievenhoutbosch- informele nedersetting doodgebrand het. Daar was drie kinders onder die slagoffers.

# Sowetan:

Lei met: “STATE CAPTURE INQUIRY 2.0?” Die koerant berig Ramaphosa het ‘n breë ondersoek gelas na die invloed van misdaadsindikate in die regstelsel.

# En The Citizen:

Lei met die nuus dat Senzo Mchunu op verlof geplaas is.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 en gee ook ‘n oorsig oor Cachalia.

Tweedens word berig twee jeugdiges is in hegtenis geneem nadat die liggaam van ‘n 82-jarige oudonderwyser, Sammy Cloete in sy huis in Bredasdorp gevind is.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig eestens oor al die opwinding in Nelson Mandelabaai tydens die Springbokke se tweede toets teen Italië die afgelope naweek.

En tweedens skryf die koerant Exporters Eastern Cape het die 2025-uitgawe van sy gesogte jaarlikse Uitvoerder van die Jaar-toekennings bekendgestel om die beste presteerders in die bedryf te vereer.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf eerstens ook oor Ramaphosa se planne om die krisis in polisiëring op te los.

En tweedens word berig Pietermaritzburg moet voorberei vir talle werksverliese.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig volgens die uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van Mynwese, Veston Malango het mynbou in 2024 altesaam 20-duisend-843 regstreekse werksgeleenthede geskep. Dit is 14,6-persent meer as die 18-duisend-189 wat in 2023 geskep is.

En tweedens skryf die koerant, sakeondernemings in die Erongostreek skuld die Namibiese Inkomstediens meer as nege-miljard-rand.