Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 Januarie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig president Cyril Ramaphosa het die Onteieningswetsontwerp onderteken, wat die ideologiese verskil in die regering van nasionale eenheid op die spits dryf. Die DA het reeds aangedui dat sy regspan die wet gaan betwis.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Skryf die families van slagoffers van apartheidsmisdade eis ná jare optrede oor die sake wat na bewering doelbewus deur die Waarheids- en Versoeningskommissie geïgnoreer is.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die EFF het naas die indiening van ‘n strafregtelike klagte ook die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson by die Openbare Beskermer verkla. Die party sê die minister tree nie in die gees van goeie regering op nie.

Dan skryf die blad die algemene verwagting is dat die Reserwebank volgende week weer die rentekoers gaan verlaag.

En laastens word berig die VF Plus het die Vrystaatse LUR vir Gesondheid, Monyatso Mahlatsi gevra om dringend in te gryp by die Bloemfonteinse distrikshospitaal.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf die Konstitusionele Hof het ‘n aansoek van oudregter Nkola Motata van die hand gewys vir regstreekse toegang om die besluit van die Nasionale Vergadering om hom af te dank, tersyde te laat stel.

# Sowetan:

Berig ook die ondertekening van die Onteieningswetsontwerp veroorsaak konflik in die regering van nasionale eenheid met die DA wat regstappe voorberei.

# En The Citizen:

Skryf die aanval van die president van Botswana, Duma Boko op Suid-Afrika by die Wêreld Ekonomiese Forum is as ongevraagd beskryf.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor die moord op die hoof van die Ekuthuleni Primary School in Kraaifontein, Jeffrey Sigudla. Hy is kort voor die skool begin het deur drie mans in sy motor doodgeskiet.

Dan het die koerant nog twee kort stories op sy voorblad:

Daar word berig oor die 17-jarige Alexander Blignault wat by ‘n vriend in Colenso deur ‘n pofadder gepik is en skryf die liggaam van die 67-jarige valskermswewer wat verongeluk het, is in Citrusdal in ‘n rivier gevind.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die Kouga-munisipaliteit het ‘n padherstelprojek van stapel gestuur wat teen ‘n koste van 200-miljoen-rand deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika befonds word.

En tweedens skryf die koerant die munisipale swembaddens in Nelson Mandelabaai is in troebel waters nadat die chloor opgeraak het.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die Suid-Afrikaanse Reserwebank sê Ithala Bank is insolvent. Die bank het egter sy finansiële state voorgelê wat na bewering aandui dat hy nie bankrot is nie.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig onderwysers en leerders by ’n skool in Rundu sê hul klagtes oor die onhigiëniese en gevaarlike toestande by hul skool se toiletgeriewe is tot dusver geïgnoreer.

Dan skryf die koerant ‘n klomp hoogs bedreigde swartrenosters word tot 6 Maart by ‘n natuurreservaat beskerm totdat die hofgeskil oor hul toekoms voortgesit kan word.

En laastens is daar nuus oor die jaarlikse Ace Charity-gholfdag wat geld insamel vir die African Child Development Trust.