Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Omsigtigheidsowerheid het besluit om die omstrede KwaZulu-Natalse ontwikkelingsagentskap, Ithala te likwideer om sy meer as 250-duisend kliënte te beskerm. Die Reserwebank sê Ithala se hoop om as handelsbank te registreer is van die baan.
# Mail en Guardian op Vrydae:
Gee vandag vir sy lesers ‘n padkaart vir die jaar wat voorlê. Die koerant skryf oor politieke verwikkelinge, die verskuiwing van geopolitiek en verbruikers se inkopiemandjie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig Solidariteit en AfriForum het aanmanings bedien op president Cyril Ramaphosa en die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube. Die organisasies voer aan die proklamasie van die Bela-wet is ongrondwetlik en onwettig.
Dan skryf die blad een van die 32-jarige lodge-bestuurder van Potchefstroom, Ian Boshoff se vermeende moordenaars het glo sy baadjie en pet gedra toe hy in hegtenis geneem is.
En laastens word berig ‘n ma van Virginia, Junëtt Smith is 11 dae na die geboorte van haar tweede seuntjie oorlede nadat sy ‘n beroerte en epileptiese toeval gehad het.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig terwyl Israel en Hamas tot ‘n skietstilstand instem, bespreek Suid-Afrikaanse amptenare en kundiges die pad vorentoe na aanleiding van die land se saak teen Israel in die Internasionale Strafhof.
En tweedens skryf die koerant die uitdaging van tienerswangerskappe en statutêre verkragting sal vanjaar die fokus wees van die parlementêre portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys.
# Sowetan:
Berig volgens kenners is daar nagenoeg 40-duisend leerders in Gauteng wat nog nie in skole geplaas is vir 2025 nie.
# En The Citizen:
Skryf ook oor AfriForum en Solidariteit se aanmanings aan Ramaphosa en Gwarube.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met Solidariteit en AfriForum se optrede teen die Bela-wet.
En berig tweedens sedert 2020 het die polisie reeds sowat 1,3-miljard-rand aan die beskerming van BBP’s bestee.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig vier maande ná ‘n oorsigbesoek aan gesondheidsorginstellings in Nelson Mandelabaai is die Oos-Kaapse portefeuljekomitee oor Gesondheid gekritiseer vir ‘n gebrek aan vordering, veral met die Uitenhage Provinsiale Hospitaal.
En tweedens skryf die koerant die inwoners van Colchester moet steeds ten duurste water aankoop aangesien daar nog niks gedoen is aan die voorsiening van drinkwater nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Valke het die vermeende baasbrein in hegtenis geneem wat verantwoordelik is vir die moord op ‘n KwaZulu-Natalse polisievrou, sersant Ntombi Mbanjwa. Sy is in April verlede jaar in haar huis in uMzimkhulu doodgeskiet.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Kavango-Oos se direkteur van Onderwys verwerp bewerings van korrupsie in die toelatingsproses by die land se beste staatskool.
Dan skryf die koerant ‘n negejarige identiese tweeling is die verdagtes in die verkragting van ‘n vyfjarige meisie.
En laastens is daar nuus oor die filmmaker Sandra Muramba wat Namibië se stories wil vertel.