Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Desember 2024:
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor die bodbestuurskomitee wat aangestel is om toesig te hou oor Suid-Afrika se planne om ‘n Formule Een-wedren aan te bied. Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie sê die koste sal deur borge gedra word.
En tweedens praat die koerant met die gholfspeler Shaun Norris wat die Alfred Dunhill-trofee verower het.
# The Star & Pretoria News:
Skryf daar is opnuut bewerings van wangedrag en nepotisme teen senior bestuurslede van Acsa. Die bewerings volg ná ‘n besoek aan Europa.
En tweedens berig die koerant verskeie drukgroepe eis optrede ná die geval van ‘n kêrel wat die moord op sy meisie op sosiale media aangekondig het.
# En The Citizen:
Skryf die openbare reaksie op ‘n man in KwaZulu-Natal wat op sosiale media gebieg het hy het sy meisie vermoor, is ‘n bewys dat Suid-Afrika nog ‘n lang pad moet stap in sy stryd teen geslagsgeweld.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met Solidariteit se uitnodiging aan die onderwysvakbond Sadou om die omstrede Bela-wet te bespreek. Die bestuurshoof van Solidariteit, Dirk Hermann sê daar is ‘n beter moontlikheid dat die verskille oor die wet in ‘n gesprek tussen werkers opgelos kan word.
En tweedens word berig ‘n vrou van Bloemfontein is omgekrap omdat sy 21-duisend-rand moet betaal nadat ‘n privaat brandweermaatskappy haar brandende lapa kom blus het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Volksblad.
En tweedens word berig oor die vreemde arrestasie van ‘n man van Kaapstad omdat hy twee jaar gelede nie ‘n Covid-19-masker gedra het nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Nelson Mandelabaai het die afgelope maand meer onbeplande kragonderbrekings gehad as wat daar dae in Desember is. Dit het ‘n uiters negatiewe uitwerking op handel tydens die feestyd.
En tweedens skryf die koerant Nelson Mandelabaai-verbruikers kan ontspan. Die roomys wat regoor die metro te koop is, word veilig geag deur ‘n openbare gesondheid- en voedselveiligheidsopname
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die gesin van die vrou wat deur haar kêrel vermoor en daarna op sosiale media vertoon is, is steeds erg geskok. Die vermeende moordenaar, Sibusiso Lawrence het daarna selfdood gepleeg.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ondanks die sterk resultate wat vanjaar in die toerismesektor ervaar is, bestaan daar steeds verskeie uitdagings in terme van die ekonomie, geopolitiek en die klimaat.
Tweedens skryf die koerant die Popular Democratic Movement het bewerings ontken dat hy met ernstige finansiële probleme worstel. Dit volg ná gerugte dat die party oorweeg om waar nodig afleggings te doen.
En laastens is daar nuus oor Wilderness Namibia wat mense bystaan met voedselvoorsiening te midde van die huidiuge droogte.