Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Desember 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig ’n koalisie van professionele gesondheidswerkers bekend as die Universal Healthcare Access Coalition het ’n alternatief vir Nasionale Gesondheidsversekering aan president Cyril Ramaphosa voorgelê en voorgestel dat mediese skemas behou word tesame met hervormings om dekking vir meer mense bekostigbaar te maak en die las op die openbare gesondheidstelsel te verminder.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die belastingbetaler gaan meer as 95-miljoen-rand moet opdok vir Suid-Afrika se saak teen Israel in die Internasionale Geregshof. Kenners is egter van mening dis nie veel meer as ‘n simboliese gebaar nie.
Dan skryf die koerant Rand Water het onderneem dat Johannesburg teen Kersfees water sal hê.
Voorts is daar ‘n berig oor talle vrae oor ‘n vliegtuig van die Amerikaanse weermag wat op die Kruger-Mpumalanga Internasionale Lughawe geland het. Volgens kenners is dit ‘n bevoorradingsvliegtuig.
En laastens is daar nuus oor die registrasieproses van spazawinkels in Gauteng. Net 14-persent van die winkels in Gauteng het reeds aansoeke ingedien.
# The Star & Pretoria News:
Skryf oor die higiëniese krisis by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal waar vuil wasgoed nou reeds weke lank ophoop.
En tweedens word berig die EFF is ‘n party onder druk met die begin van sy derde verkiesingskonferensie.
# Sowetan:
Berig die inlywingseisoen in Gauteng het op ‘n negatiewe noot afgeskop met twee sterftes wat reeds aangemeld is en gerugte van afpersing en groot bedrae geld wat ouers vir vermiste kinders moet betaal.
# En The Citizen:
Skryf Rand Water word gekritiseer oor die wateronderbreking van 86-uur oor die lang naweek aangesien baie mense spesiale geleenthede beplan en die tekort aan water kan ‘n gesondheidsrisiko inhou.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met die befondsing van die saak teen Israel.
En tweedens skryf die koerant die omstrede diamanthandelaar Louis Liebenberg se vrou Dezzi wat saam met hom tereg staan het glo niks van sy sakebelange geweet nie. Sy word as “naïef en lief vir geld” beskryf.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad oor die Israelse saak.
En tweedens word berig die EFF dring daarop aan dat die Stem uit die volkslied verwyder word en deur ‘n ander Afrikaanse lied vervang word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n prokureur van Gqeberha, Du-Wayne Stoltz is deur die Valke gearresteer omdat hy na bewering ‘n kliënt se uitbetaling van sy vorige werkgewer gesteel het. Hy sal vandag in die plaaslike Handelsmisdaadhof verskyn.
En tweedens skryf die koerant die onsuksesvolle OP-rugby-presidentskandidaat, Willem Oliphant het sy voorneme verklaar om die verkose president, George Malgas se verkiesing in die hof uit te daag.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die MK-party het ‘n duidelike boodskap aan die KwaZulu-Natalse regering gestuur dat hulle nie ingeloop kan word nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië het die Internasionale Geregshof versoek om te beslis dat die verpligtinge van lande wat verantwoordelik is vir die klimaatkrisis wetlik bindend moet word.
Dan skryf die koerant die minister van Landbou, Water en Grondhervorming, Calle Schlettwein het gemeenskapsgrond van meer as agt-duisend hektaar aan die /Khomanin Tradisionele Owerheid oorhandig.
En laastens is daar nuus oor ‘n plaaslike joernalis en vervaardiger se dokumentêr wat handel oor dwelmmisbruik onder jong mense in Walvisbaai.