Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 November 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die spanning loop hoog tydens die tweede week van die COP-29-klimaatgesprek in Baku, aangesien lande sukkel om vordering te maak met ooreenkomste. Lede van die Suid-Afrikaanse span onder leiding van minister Dion George maak deel uit van die span wat die dooiepunt probeer oplos.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor die dood van die 19-jarige Joe de Klerk, ‘n matriekleerder van Christiana. Hy het omgekom in ‘n motorfietsongeluk buite die dorp en sy roudiens word vandag gehou.
Dan skryf die koerant die inwoners van Lichtenburg in Noordwes se krag is weer afgesny nadat dit net vir ‘n week aan was.
En laastens word berig daar dreig vanjaar opnuut ‘n hofsaak oor die publikasie van die matriekuitslae. AfriForum lei die saak teen die Departement van Basiese Onderwys.
# The Star & Pretoria News:
Skryf daar is oproepe uit talle oorde dat die 21 dae om spazawinkels te registreer verleng moet word.
En berig ook oor die dreigende hofstryd oor die matriekuitslae.
# Sowetan:
Berig duisende spaza-eienaars in Soweto staan tou om hul ondernemings te registreer. Daar het egter chaos uitgebreek toe buitelandse eienaars weggejaag is.
# En The Citizen:
Skryf ‘n studie oor geslagsgeweld in Suid-Afrika het bevind dat 35,5-persent van alle vroue bo 18 in die land al aan een of ander vorm van seksuele of fisiese geweld blootgestel is.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig Kleinjan le Grange en Rudi Gericke het gister weer in die Ficksburg-landdroshof verskyn in verband met aanranding en saakbeskadiging by die dorp se gholfklub in 2022.
Dan skryf die koerant die liggaam van die driejarige Lethobo Litabe van Winburg is in ‘n swartsak gevind nadat hy vroeër vermis geraak het. Die polisie ondersoek ‘n moordsaak.
En laastens word berig die stasiebevelvoerder van Hennenman, luitenant-kolonel Sephiri Matankole is in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy meisie aangerand het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die vrou en vermeende moordenaar van Stefan Smit van Stellenbosch het gister in die hof inmekaargesak. Volgens haar regspan het Surenah Smit ‘n gewas op die brein.
En tweedens skryf die koerant ‘n man is in hegtenis geneem nadat hy sy voertuig voor die tolhek by die Hugenote-tonnel voor aankomende verkeer in die rondte gespin het.
# En Cape Times:
Skryf afpersers dreig die stad Kaapstad om dienslewering in Kraaifontein tot stilstand te dwing.
En berig mense dobbel nie meer vir plesier nie. Hulle dobbel vir oorlewing.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit sal die aanstelling van nuwe kandidate moet hersien ná hewige kritiek dat sekere rasgroepe oor die hoof gesien word.
En tweedens skryf die koerant die munisipaliteit het ‘n begrotingstekort van 69-miljoen-rand om nuwe vullishouers aan te koop waarsonder vullisverwydering nie gedoen kan word nie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ook oor AfriForum se hofstryd oor die matriekuitslae .
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig volgens ’n Hoërhof-bevel word Droombos in Windhoek verbied om geleenthede aan te bied. Die eienaar sê egter hulle hét toestemming om konferensiegeriewe te bedryf en hy is nie bewus van ‘n konferensielokaal in Namibië wat nie funksies mag aanbied nie.
Dan skryf die koerant renosterstropers slaan nie meer net snags tydens volmaan toe nie. Daar is ook nou voorvalle wat helder oordag plaasvind.
En laastens is daar nuus oor Ruben van Namibië met sy bobbejaansuster Cindy wat saam met Minki die meerkat en ander diere ‘n sosialemediastorm ontketen het en nou ook geld vir droogtehulp ingesamel het.