Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 31 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Finansies, Enoch Godongwana sê ’n laer as verwagte belastinginkomste van 22,3-miljard-rand vir 2024/25 het die gekonsolideerde begrotingstekort verhoog. Hy sê ‘n beperkte mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring sal die land op sy fiskale konsolidasiepad hou.
GAUTENG:
# Beeld:
Staan sy hele voorblad af aan die begroting. Die koerant berig vroeë aftreepakkette aan staatsamptenare, reëls om privaat belegging vir infrastruktuur te vergemaklik en ’n herbesinning oor die armoedetoelae is van die hoogtepunte uit die mediumtermynbegrotingsraamwerk.
# The Star & Pretoria News:
Skryf ook oor die begroting en berig die 350-rand-toelae sal moontlik teen Maart aanstaande jaar opgeskort word.
En tweedens word berig daar is talle afleweringsbestuurders in Johannesburg wat nie rybewyse het nie.
# Sowetan:
Berig die Sekhukhune United-sokkerspeler, Shaune Mogaile is gearresteer en van strafbare manslag aangekla nadat ‘n negejarige meisie in ‘n motorongeluk in Tembisa dood is en nog twee mense beseer is. Daar was glo drank en dwelmmiddels in die voertuig.
# En The Citizen:
Skryf die spooragentskap PRASA is besig om goeie vordering te maak met 80-persent van die land se spoornetwerk wat weer oopgestel is en misdaad op treine wat met 72-persent afgeneem het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met die mediumtermynbegrotingsraamwerk. Die koerant berig daar is geen bykomende fondse beskikbaar gestel vir onderwys en om staatsondernemings te steun nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
# En Cape Times:
Skryf Godongwana sê die onderwysbegrotingsprobleme is die provinsies se eie skuld.
En berig ook oor die 350-rand-toelae.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Nelson Mandelabaai het ná die Junie-oorstromings net 89-miljoen-rand vir ramphulp ontvang. Die bedrag moet egter eers deur die Parlement se staande komitee oor Bewilligings goedgekeur word.
En tweedens skryf die koerant twee bejaarde vroue is vermoor en vyf leerders is verkrag in die bestek van een nag in die Bhityi-gebied buite Mthatha.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Lei met die afskaffing van die 350-rand-toelae.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die huidige droogte was ’n groot fokuspunt by die tertafellegging van die Namibiese middeltermynbegroting, met die bedryfsbegroting wat tot 2,6-miljard-rand opgestoot is.
Dan skryf die koerant die nuwe egskeidingswet laat nou toe dat ’n eggenoot wat hul gade verkul of mishandel, hul deel van die huweliksbates kwyt kan wees.
En laastens word berig lede van verskeie politieke partye wat na Johannesburg gereis het om eerstehands toesig te hou oor die verkrygingsproses van die stembriewe vir die komende verkiesing, het hul frustrasie met die Namibiese verkiesingskommissie uitgespreek.