Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Vodacom wil appelleer teen die Mededingingstribunaal se besluit om sy samesmelting met Remgro se vesel-afdeling te keer. Dit sou daartoe gelei het dat Vodacom ‘n belang van 30-persent in Maziv verkry. Dié stap sou die land se telekommunikasielandskap ingrypend beïnvloed.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die ooreenkoms om houers van diplomatieke, amptelike en dienspaspoorte sonder ’n visum tussen Suid-Afrika en Oekraïne te laat reis, is nog nie gefinaliseer nie. Dit volg nadat die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber aangekondig het dit is reeds afgehandel.
Dan skryf die koerant oor die 20 jaar, 30 seisoene en meer as 570 episodes van die La’t wiel-TV-program.
En laastens is daar nuus oor die herstel van Alison Botha ná ’n onlangse breinaneurisme. Botha was in die nuus toe sy 30 jaar gelede wreed verkrag en vir dood agtergelaat is.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die ANC wil hê die BTW op meer voedselitems moet afgeskaf word.
En berig ‘n hernuwingsprojek van 1,3-miljard-rand wat vir Alexandra in die vooruitsig gestel is, is vir eers gestaak.
# Sowetan:
Berig die taxibedryf word ook nou deur kapers geteiken. Hulle staan bekend as sogenaamde rylopers wat ‘n losprys by taxibestuurders eis. Selfs privaat motoriste word gedreig om ‘n losprys vir hul voertuie te betaal.
# En The Citizen:
Lei met: “NO HOUSE IN YOUR LIFETIME”. Die koerant skryf die Departement van Menslike Nedersettings in Gauteng bou jaarliks net sowat nege-duisend huise wat beteken die gemiddelde inwoner wag 150 jaar vir ‘n huis.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens oor die hartseer na die moord op die 32-jarige plaasbestuurder, Ian Boshoff by die Snymanshof Lodge in Buffelshoek. Sy liggaam is in sy kantoor aangetref.
En tweedens skryf die koerant ‘n kontrakteur wat die munisipaliteite van Theunissen en Winnie Mandela gyselaar gehou het deur hul watertoevoer af te sny, is deur die hof beveel om die toevoer te herstel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die kanselier van die Universiteit Stellenbosch, regter Edwin Cameron, is gevra om sy kwetsende stellings oor die paneel wat die Wilgenhof-koshuis ondersoek het, terug te trek. Hy het glo beweer die finale verslag is deur die onbehoorlike invloed van die rektor verander.
En tweedens skryf die koerant ook oor die herstel van Allison Botha.
# En Cape Times:
Skryf bejaardes in townships word afgedreig om hul pensioengeld in die hande te kry.
En berig die Parlement sê nee vir ‘n ad hoc-komitee oor afpersing.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n motorbestuurder van Nelson Mandelabaai het met sy voertuig in die see ingery nadat ‘n passasier ‘n geweer teen sy kop gehou het.
En tweedens skryf die koerant ‘n polisiebeampte het ‘n skilpad gered wat vir drie dekades lank deur ‘n sangoma vasgeketting en gevange gehou is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die inwoners van Umhlanga het geëis dat alle vuurwerkverkope daar gestaak word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die speaker van die Namibiese Parlement het dit as baie hartseer bestempel dat die middeltermynbegroting vir die tweede keer nie ter tafel gelê kon word nie.
En tweedens skryf die koerant die hoofbeampte van die Kunene-streekraad kon geen inligting verskaf oor die streek en Opuwo se benarde finansiële situasie nie.