Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die visum-kwytskeldingsooreenkoms tussen Suid-Afrika en Oekraïne om reise vir diplomate en staatsamptenare makliker te maak, weerspreek die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber se aankondiging.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig beleggers en ministers wat na bewering munt geslaan het uit Louis Liebenberg se diamantskema, gaan hul winste en skenkings moet terugbetaal indien dié skema tot ’n ponzi-skema verklaar word.
Dan skryf die koerant minstens 20 bome is op die Skukuza-gholfbaan ontwortel en verskeie skole en huise is beskadig nadat ’n enorme storm Mpumalanga getref het.
En ten slotte is daar nuus oor Mej. Suid-Afrika, Mia le Roux wat op pad is na die Mej. Heelal-kompetisie in Mexiko.
# The Star & Pretoria News:
Skryf ministers en LP’s skuld nagenoeg vier-miljoen-rand aan agterstallige huurgeld.
En berig daar is ‘n beroep dat strenger opgetree word teen onwettige plaagdoders.
# Sowetan:
Berig dit is reeds 23 dae sedert die kinders van Naledi aan vergiftiging dood is en steeds is daar geen uitslag nie. Die koerant skryf 80 inspekteurs het monsters by 84 winkels geneem en toksikologiekenners sê dit behoort drie dae te neem om uitslae te kry.
# En The Citizen:
Skryf oudminister Roelf Meyer het die ANC en DA gewaarsku om Suid-Afrika bo hul partye te stel anders gaan hulle die regering van nasionale eenheid vernietig.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens oor die moord op die 32-jarige Ian Boshoff in die Buffelshoek-distrik in Noordwes. Sy liggaam is met verskeie skietwonde aangetref. Die polisie is op soek na die verdagtes.
En tweedens word berig die inwoners en boere uit die distrik Theunissen het saam betoog oor die waterkrisis in die dorp.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die sogenaamde Klawer-moordenaar, Daniel Smit is in die rondgaande Hooggeregshof in Vredendal skuldig bevind aan die moord op die 13-jarige Jerobejin van Wyk.
Intussen het die getuienis ter strafversagting volgens die koerant ook gister begin.
En tweedens word berig ‘n nuwe noordwaartse tonnel word teen ‘n koste van 4,5-miljard-rand by die Hugenote-tonnel gevoeg.
# En Cape Times:
Skryf ook oor die skuld van ministers en parlementslede en berig ook oor Daniel Smit se skuldigbevinding aan moord.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ANC is op soek na ‘n geskikte burgemeesterskandidaat om Gary van Niekerk in Nelson Mandelabaai te vervang. Die name van provinsiale leiers en ‘n paar voormalige metropolitici word genoem.
En tweedens skryf die koerant onvoldoende hulpbronne vir strandveiligheid in Gqeberha stel die stad se toerismesektor in gevaar. Toeriste word nou voor hulle besoek gewaarsku.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf daar is ‘n mening in die Inkatha Vryheidsparty dat die gebruik van Mangosuthu Buthelezi as gesig van die party nou vervang moet word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n kragaanleg word tans in Windhoek gebou wat 250 ton afval per dag kan verwerk, en 8,5 megawatt elektrisiteit en 17,5 megawatt se hitte sal opwek.
Dan skryf die koerant die middeltermynbegroting kon nie gister plaasvind nie weens ’n onvoldoende aantal parlementslede teenwoordig. Minder as 49 het opgedaag.
En laastens is daar nuus oor Ashburton Kwata, ’n inisiatief van Krieket Namibië om jong kinders aan die spel van mini-krieket bloot te stel.