Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Iran het ‘n salvo ballistiese missiele na Israel gelanseer as weerwraak vir sy veldtog teen Teheran se Hizbollah-bondgenote in Libanon. Die koerant skryf alarms wat reg oor Israel afgegaan het, het inwoners na bomskuilings laat vlug.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die beskuldigde in die moord op Reneé Lea van Standerton, Cuan Karelse het aangevoer hy moet borgtog ontvang omdat hy werk moet soek om sy swanger meisie by te staan en die geboorte van sy kind by te woon. Die aansoek is nie toegestaan nie.
Dan skryf die koerant die Weerdiens voorspel ‘n warm somer vir die binneland met erge donderstorms en hael.
Voorts word berig die balju het op onder meer ‘n koolstoof en ‘n lugbraaier beslag gelê by die huis van die omstrede diamanthandelaar, Louis Liebenberg se eksmeisie, Ronelle Kleynhans.
En laastens is daar nuus oor prins Harry wat later die week ‘n draai in Lesotho en Suid-Afrika kom maak.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka het die bestuur van die Departement van Korrektiewe Dienste gekritiseer vir die hantering van die reeksverkragter Thabo Bester se ontsnapping.
En tweedens word berig die spanning tussen die ANC en DA bedreig die bestendigheid van die regering van nasionale eenheid.
# Sowetan:
Berig ‘n verkragtingslagoffer is verheug dat sy haar hofstryd gewen het teen die aanname dat ‘n verkragter konsensuele omgang as verweer kan voorhou.
# En The Citizen:
Skryf met die watervoorsiening van die Lesotho Hooglandprojek wat nou afgesny is, sal Gautengse munisipaliteite spaarsaam moet werk met water en lekkasies in die infrastruktuur herstel.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die oud-Bok Naka Drotské en ‘n vriend, Lionel Palmer, verskyn in die Landdroshof nadat hulle na bewering ‘n buurman, John de la Hunt aangerand het. Laasgenoemde het na bewering ontoepaslike teksboodskappe oor Drotské se vrou gestuur.
Tweedens skryf die koerant ook oor die Openbare Beskermer se verslag oor Thabo Bester.
En laastens word berig die boere van Memel in die Noordoos-Vrystaat hoop op hulp nadat brande verwoesting gesaai het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Appèlhof het die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, se verlof tot appèl teen ʼn vorige beslissing van die Hooggeregshof in die Wes-Kaap van die hand gewys en dit gekritiseer as beuselagtig.
En tweedens berig die koerant ook oor Naka Drotské.
# En Cape Times:
Skryf ook oor die spanning tussen die ANC en DA in die regering van nasionale eenheid.
En berig die polisiekommissaris sê daar sal binnekort inhegtenisnemings volg ná die Lusikisiki-slagting.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-metro gaan gebuk onder ’n verouderende arbeidsmag, meer as duisend vakante poste en 96-miljoen-rand se siekverlof.
En skryf tweedens konstruksie-mafias is opnuut in die kollig met Nelson Mandelabaai se Direktoraat Menslike Nedersettings wat vertragings op belangrike projekte uitgelig het wat voortspruit uit ‘n behoefte aan sekerheidsbegeleiding na boupersele.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf lede van die gemeenskap het gister opgeruk na die Wentworth-hospitaal om ‘n griefskrif oor die omstandighede by die hospitaal te oorhandig.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Kokoseb-goudprojek in die noordweste van Namibië het sedert verlede jaar met 63-persent gegroei tot 2,12-miljoen onse ondergrondse goud.
En tweedens skryf die koerant twee aansoeke is van Amerikaanse jagters ontvang om jagtrofeë van twee swartrenosters uit Namibië na die land in te voer.