Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig AngloGold Ashanti het 44,8-miljard-rand aangebied vir die oorname van die eienaar van Egipte se grootste goudmyn, Centamin. Dit sal een van die grootste mynboutransaksies van die jaar wees.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi het in die Parlement aangekondig begrotingsbesnoeiings veroorsaak nou ook dat kritieke vakante poste vir dokters, verpleegpersoneel en senior bestuurders in die openbare gesondheidsektor nie gevul kan word nie.
Tweedens skryf die koerant oor die tuiskoms van Suid-Afrika se paralimpiese atleet, die siggestremde Louzanne Coetzee. Sy bring ‘n bronsmedalje terug uit Parys.
En laastens is daar nuus oor die landloopatleet, Olerato Masiloane wat sy spanmaat Emil Els bygestaan het toe hy tydens ‘n wedloop gestruikel het.
# The Star & Pretoria News:
Skryf mediese ondersoeke in die lugvaartbedryf is in die soeklig. Die lisensie van die SAL se hoof mediese beampte, dokter Nonhlanhla Shishaba is nie hernu nie wat die sertifikate wat sy uitgereik het moontlik onwettig laat.
En berig daar is twee-miljard-rand se eise uitstaande teen die polisie vir onregmatige arrestasies
# Sowetan:
Berig die eienaar van ‘n winkel in die Johannesburgse middestad het onthul hoe ‘n bende hom gedreig het om beskermingsgeld te betaal en toe hy ophou, is sy onderneming beroof. Dit volg na die inhegtenisneming van vier mans vir intimidasie by ‘n bouterrein.
# En The Citizen:
Lei met “SAA IN PILOT MEDICAL SCAM”. Die koerant skryf soos The Star & Pretoria News oor Sishaba se lisensie wat nie hernu is nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens talle pasiënte wat swak behandeling by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein ontvang het, is nou van plan om die Menseregtekommissie te nader om ondersoek in te stel na die haglike omstandighede by die hospitaal.
Tweedens skryf die koerant oor die Cheetah-agtste-man, Jeandré Rudolph en sy vrou Kate se pasgebore seun, Jamie.
En laastens word berig drie veediewe wat ‘n Merino-ram van 180-duisend-rand op ‘n plaas by Loxton geslag en geëet het, is vir drie jaar tronk toe gestuur.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig indien die Universiteit Stellenbosch besluit om die Wilgenhof-koshuis te sluit, gaan die alumni-vereniging die besluit in die Hooggeregshof laat toets. Die voorleggings oor die koshuis dien Maandag voor die raad.
En tweedens skryf die koerant die adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Narend Singh sê byna die helfte van die vis wat mense tans eet, word op visplase geteel.
# En Cape Times:
Skryf die beleërde minister van Justisie, Thembi Simelane het ontken dat sy in enige stadium ‘n ondersoek deur die Nasionale Vervolgingsgesag probeer keer het.
En berig oor die DA se mislukte poging om die Knysna-raad oor te neem.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Gary van Niekerk, het op ‘n vraag of hy gaan bedank kort en kragtig “nee” geantwoord.
En skryf pogings deur die Nelson Mandelabaai-metro om nie-betalers se krag af te sny, het geen uitwerking gehad op die metro se pogings om 14-miljard-rand se agterstallige skuld in te vorder nie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Berig die IVP is nie gretig om met die ANC saam te werk in munisipaliteite waar daar geen volstrekte meerderheid is nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Swapo se presidentskandidaat, Netumbo Nandi-Ndaitwah, het die skenkers wat miljoene Namibiese dollars by die regerende party se galadinee belowe het, gemaan om niks in ruil daarvoor of gunste van die regering te verwag nie.
En skryf die familie van ’n voormalige adjunkdirekteur in die ministerie van Werke en Vervoer, wyle Lemmy Mutonga wat in 2019 doodgeskiet is, sê geen tronkstraf vir sy moordenaars kan hul pa terugbring nie.