Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die uitvoerende hoof van Business Unity SA, Cas Coovadia sê hy is teleurgesteld oor die regering se oënskynlike gebrek aan belangstelling in gesprekke oor die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Lei met: “A BLOW BY BLOW ACCOUNT”. Die koerant stel ondersoek in na die voorkoms van konstruksiemafias in die land.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor ‘n onderhoud met president Cyril Ramaphosa wat op eNCA uitgesaai is. Die president sê onder meer hy wou nie glo die ANC gaan nie ‘n meerderheid behaal in die verkiesing nie, hy luister na Jazz-musiek as hy werk en hy kook graag kerrie.
Tweedens skryf die koerant oor Media24 se uitvoerende hoof, Ishmet Davidson wat die mediagroep skielik verlaat.
En laastens is daar nuus oor ‘n storie waaroor ander media reeds wyd berig het, naamlik die lot van Robin du Plessis wat haar verloofde Willem van der Sandt en hul driejarige dogtertjie Shylo verlede Vrydag in ‘n ongeluk verloor het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die minister van Polisie, Senzo Mchunu sê misdadigers kan nêrens wegkruip nie.
En berig die voormalige leier van ActionSA in Gauteng, Bongani Baloyi is die jongste hoëprofielpolitikus wat by Jacob Zuma se MK-party aangesluit het.
# Sowetan:
Berig oor die Johannesburgse Metro se projek van 63-miljoen-rand om inwoners na ‘n nuwe gebied met beter dienste te skuif. Die inwoners het die stadsraad bedank, maar sê die strukture is steeds net tydelik en hulle soek huise.
# En The Citizen:
Skryf ‘n nie-regeringsorganisasie doen tans regstappe teen ‘n mediese fonds en voer aan almal is geregtig op lewensreddende medikasie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig vier leerders van die Upington Hoërskool wat betrek word by ‘n vermeende rassitiese video op TikTok is geskors. Die seuns sal op 17 September voor ‘n tugverhoor verskyn.
Dan skryf die koerant die Bok-afrigter Rassie Erasmus sê die siening van plaaslike All Black-ondersteuners moet respekteer word.
En laastens word berig ‘n sekerheidsbeampte van Bloemfontein, Edmund Jason Baartman is met ‘n mes doodgesteek toe hy die vermeende moordenaar berispe het omdat hy kinders vloek.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig professor Deresh Ramjugernath is aangestel as Universiteit Stellenbosch se dertiende rektor. Hy sal op 1 April volgende jaar in diens tree.
En tweedens skryf die koerant die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het ‘n beroep op onderwysvakbonde gedoen om nie te staak oor die moontlike afskaffing van poste nie, maar eerder saam met die departement werk om die poste te behou.
# En Cape Times:
Skryf ook oor die moontlike verlies aan onderwysposte in die Wes-Kaap.
En berig die nuwe Matie-rektor sien uit na die uitdagings wat op hom wag.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ’n gespesialiseerde taakspan van die polisie se Nasionale Intervensie-eenheid is ontplooi om misdadigers in Nelson Mandelabaai en Mthatha vas te vat.
En skryf oor polisierekrute in die Baai wat by ‘n bedrogspul betrek is nadat hulle genader is om geld te betaal om hul poste te verseker.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf oor die vlaag van afpersing wat ook KwaZulu-Natal teister. Mense sê hulle is moeg daarvoor want hulle moet enigiets van vyf-duisend- tot 20-duisend-rand ‘n maand opdok.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig terwyl die Namibiese EFF probeer om sy momentum te herwin voor die nasionale verkiesing in November, sal daar na verwagting meer as 240 lede van Swapo môre in Khomasdal saamtrek vir die opening van dié party se kieskollege.
En tweedens skryf die koerant oor kykNET se nuwe leefstylprogram, Op pad met my potjie, waarin Namibiese kookkuns van nader bekyk word.