Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 Julie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die minister van Eletrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa sê strukturele beurtkrag is uitgeroei met Eskom wat gereed is om sy energiebeskikbaarheidsfaktor teen die einde van die boekjaar tot meer as 70-persent verbeter.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Skryf die stof het nog nie gaan lê om die Suid-Afrikaanse sokkerbaas Danny Jordaan nie. Die sokkervereniging se finansiële state word nou aangevra vir forensiese ondersoek.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die ANC is gefrustreerd met die slakkegang waarteen grondhervorming vorder en het hul volle steun toegesê aan onteiening sonder vergoeding.

Dan skryf die webblad hoofregter Mandisa Maya het die uitlatings deur luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi bevraagteken. Sy sê sulke aantygings kan nie sonder bewyse gemaak word nie want dit ondermyn die publiek se vertroue in die regstelsel.

En laastens word berig oor die vonnis van 15 jaar tronkstraf vir die oudpolisiebeampte, Johan Marais vir die moord op die aktivis Caiphus Nyoka in 1987.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Berig daar is wydverspreide hoop om MIV te bekamp nadat die Amerikaanse voedsel- en medisyne-administrasie ‘n inspuitbare middel vir MIV-voorkoming goedgekeur het. Lenacapavir hoef slegs twee keer per jaar ingespuit te word. Die vraag is egter of Suid-Afrika dit kan bekostig.

# Sowetan:

Berig die minister van Vervoer, Barbara Creecy sê haar departement het banke genader om spesiale terugbetalingsooreenkomste vir taxi-operateurs te beding om die skuldlas te verlig wat sy sê die oorsaak van die taxikonflik is.

# En The Citizen:

Skryf oor ‘n ondersoek na die ongerymdhede by ‘n rehabilitasiesentrum. Daar is bewerings van geweld, marteling en selfs seksuele misbruik in die naam van godsdiens.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die ANC is onder druk oor sy dalende ledetal. Die party het die afgelope twee jaar 107-duisend lede verloor. Die koerant skryf dis veral beroepslui wat die party verlaat. Die inligting is vervat in die ANC se jaarverslag.

Dan skryf die koerant die Weerdiens het verdere gure weer en onstuimige see vir die Wes- en Noord-Kaap voorspel.

En laastens word berig die agente van die Amerikaanse Geheime Diens wat op diens was tydens die aanslag op president Donald Trump se lewe voor die verkiesing is almal geskors.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het besluit om die Ontwikkelingsagentskap nog 90 dae te gun om die Nelson Mandelabaai-stadion te bestuur.

En tweedens skryf die koerant alles is gereed vir die Bokke se tweede toets teen Italië môre in Gqeberha.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die 20-jarige Paige Bell, voorheen van KwaZulu-Natal, is in die Bahamas aan boord van ‘n seiljag vermoor. Die polisie het ‘n 39-jarige man in hegtenis geneem.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die regspan wat die agt beskuldigdes in die Namcor-Enercon-korrupsiesaak verteenwoordig, sê vyf se selfone is afgevat sonder ‘n lasbrief. Hulle wil die saak om tegniese redes laat terugtrek.

Dan skryf die koerant dit sal 4,85-miljard-rand kos om die openbare vervoer in Windhoek en omliggende dorpe reg te ruk.

En laastens word berig Windhoek se behuisingstekort staan tans op sowat 300-duisend eenhede en dit dryf huurpryse op tot onbekostigbare vlakke.