Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Augustus 2024:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa sê die Nasionale Energiereguleerder het die proses van formele instemming verkeerd hanteer om twee-duisend-500 megawatt teen September 2023 te verkry. Die minister gaan nou die bepaling oor kernkrag wat in Januarie in die Staatskoerant gepubliseer is, terugtrek.

GAUTENG:

# Beeld:

Staan sy hele voorblad af aan Suid-Afrika se driekuns die afgelope naweek. Die Springbokke teen die Wallabies, die Proteas wat die toetsreeks teen die Windies beklink het en Dricus du Plessis.

# The Star en Pretoria News:

Skryf identiteitsbedrog toon tans ‘n skerp styging in Suid-Afrika.

En berig oor die emosionele begrafnis vir die sibbe wat weens voedselvergiftiging omgekom het.

# Sowetan:

Berig oor verbruikers wat voortdurend deur telefoon-bemarkers lastig geval word. Klagtes het nou aanleiding gegee dat ‘n voertuigopsporingsmaatskappy sy bemarkingsmaatskappy se diens beëindig het.

# En The Citizen:

Skryf die oorwinning van Dricus du Plessis gaan ‘n ekonomiese inspuiting vir Suid-Afrika beteken aangesien dit wil voorkom of sy volgende geveg tuis aangebied sal word.

VRYSTAAT:

# Volksblad in Bloemfontein:

Het dieselfde hoofberig as Beeld oor Suid-Afrika se sportprestasies.

En tweedens word berig ‘n 17-jarige seun van die Hoërskool Overberg in Caledon het na bewering ‘n bekentenis afgelê oor die moord op Deveney Nel. Hy sal vandag in die plaaslike Landdroshof verskyn op onder meer ‘n aanklag van moord.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met die inhegtenisneming van die 17-jarige skoolseun in verband met die moord op Deveney Nel.

En tweedens word daar ook oor Suid-Afrika se blink sportnaweek berig.

# En Cape Times:

Skryf ‘n vragskip het bykans ‘n 100 vraghouers ter see verloor.

En berig ook oor identiteitsbedrog in Suid-Afrika.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig eerstens ook oor al Suid-Afrika se sportprestasies die afgelope naweek.

En tweedens skryf die koerant die minister van Polisie, Senzo Mchunu het aangekondig dat 301 nuwe polisiebeamptes reeds na die Nelson Mandelabaai-metro ontplooi is. ‘n Verdere 300 veiligheids- en sekerheidsbeamptes sal opleiding ontvang.

KWAZULU-NATAL:

# Daily News in Durban:

Skryf daar heers skok en ongeloof nadat ses mense in Umlazi doodgeskiet is. Die inwoners sê daar is ‘n tekort aan polisiebetrokkenheid en -intelligensie in die gebied.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die minister van Landbou, Calle Schlettwein het planne aangekondig om die veeartseny-kordonheining, bekend as die Rooilyn, verder noord te verskuif.

En tweedens skryf die koerant Swapo se presidentskandidaat, Netumbo Nandi-Ndaitwah moet volgens ‘n konsep-hofbevel voor 30 Augustus ‘n verklaring by die hof indien in ‘n hofgeding oor ‘n besluit van die sentrale komitee.