Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Augustus 2024:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Sasol verwag ‘n beduidende netto-verlies van 55,8-miljard-rand weens waardedalings van altesaam 75,4-miljard-rand. Die maatskappy ondervind onderdrukte pryse van chemiese produkte en marges, ondanks die sterker rand-olieprys en verbeterde raffinadery-marges.

GAUTENG:

# Beeld:

Berig Francois Leibrandt is ingevolge ’n pleit-en-vonnisooreenkoms vier jaar effektiewe tronkstraf opgelê vir die aanranding op Ethan en Herman Knipe in Gezina, Pretoria verlede jaar.

Dan skryf die koerant die nasionale dialoog wat president Cyril Ramaphosa voorstel, gaan nie net ’n platform vir bespreking wees nie, maar ook vir daadwerklike optrede. Die FW de Klerk-stigting sê hulle gaan hieraan deelneem.

En laastens word berig ’n koalisie van bewaringsorganisasies het ’n ope brief aan minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George en die minister van landbou, John Steenhuisen geskryf om daadwerklike stappe te doen om die geblikte-leeu-bedryf te sluit.

# The Star en Pretoria News:

Skryf oor die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa wat gratis kraglewering aan arm huishoudings oorweeg.

En berig oor ‘n onderwyser wat weens seksuele oortredings afgedank is.

# Sowetan:

Berig Maria Mphukubje het aan haar seun gesê sy is bang vir die man wat haar huis uitverf en vyf minute later is sy vermoor. Die man wat die verfwerk gedoen het, verskyn vandag in die hof.

# En The Citizen:

Skryf die kontant-stormloop wat verwag word wanneer die tweepot-stelsel volgende maand inskop, is goeie nuus vir die belastinggaarder en die Tesourie. Daar word voorspel dat dit die huishoudelike besteebare inkomste met tot 79-miljard-rand sal verhoog.

VRYSTAAT:

# Volksblad in Bloemfontein:

Berig eerstens oor die moordverhoor van Jackie Nel van Thaba Nchu. ‘n Patoloog het gister getuig haar beserings kom voor of sy met ‘n stomp voorwerp geslaan is. Haar man Thomas staan tereg vir die moord wat ses jaar gelede gepleeg is.

En tweedens skryf die koerant oor die moordondersoek van die 16-jarige Deveney Nel van die Hoërskool Overberg in Caledon. Haar liggaam is met steekwonde by die skool aangetref. Die polisie ondersoek verskeie leidrade wat gevind is.

WES-KAAP:

# Die Burger

Berig ook oor die Deveney Nel-moordondersoek.

En tweedens skryf die koerant ‘n dowe rugbyspeler van Bonteheuwel in Kaapstad, Tashriq Parker het skedelbreuk opgedoen in ‘n wedstryd teen Engeland.

# En Cape Times:

Skryf die ondersoek na die gebruik van die k-woord by die Table View High School is afgehandel.

En berig ook oor die onderwyser wat weens seksuele oortredings afgedank is.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig kerkleiers het die toenemende aanvalle op gemeentes as ‘n geloofskrisis bestempel nadat gewapende mans tydens nog ‘n gewelddadige voorval op gemeentelede, waaronder kinders, losgebrand het.

En tweedens skryf die koerant meer as 100 inwoners van Walmer het ‘n griefskrif onderteken oor verlate eiendomme wat rondlopers en misdadigers lok. Die gemeenskap wil hê die metro moet die eiendomme verkoop.

KWAZULU-NATAL:

# Daily News in Durban:

Skryf die sluiting van die plaaslike kliniek weens ‘n tekort aan water het tot grootskaalse betogings in Inanda gelei.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig Sisa Namandje is een van die hoëprofielleiers wat nie homself beskikbaar gestel het vir oorweging by Swapo se komende kieskollege waar diegene vir parlementêre setels en uiteindelik kabinetsposisies verkies sal word nie.

Dan skryf die koerant die Teen-korrupsiekommissie van Namibië se jaarverslag dui op tekortkominge in die voorkoming van korrupsie in staatskantore, ministeries en plaaslike owerhede.

En laastens word berig Swakopmund is in die Wêreld Kulinêre-toekennings genomineer as een van die beste bestemmings op die Afrika-vasteland.