Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Tongaat Hulett Beperk sal moontlik van die JSE denoteer nadat aandeelhouers ’n voorgestelde transaksie waar skuld vir aandele geruil sou word, verwerp het. Vision Consortium sou 97,3-persent van die aandele oorneem.
GAUTENG:
# Beeld:
Staan sy hele voorblad af aan Suid-Afrika se prestasies by die Olimpiese Spele.
Die koerant berig eerstens oor die 26-jarige spiesgooier Jo-Ané van Dyk wat oor ‘n maand trou. Sy het Saterdagaand die silwermedalje in die spiesgooi vir vroue gewen.
En tweedens is daar ‘n berig oor die 18-jarige Bayanda Walaza en hoe trots sy skool waar hy vanjaar matriek skryf op sy deelname is. Hy het saam met sy spanmaats ‘n silwermedalje om sy nek gehang in die 4 X 100-meter aflos.
# The Star en Pretoria News:
Berig die voormalige sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule se voormalige persoonlike assistent, Moroadi Cholota, sal na verwagting vandag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn, nadat sy verlede Donderdag suksesvol deur die VSA uitgelewer is.
En tweedens skryf die koerant Suid-Afrika se vlag het hoog gewapper by die Olimpiese Spele.
# En Sowetan:
Berig Bethuel Ngobeni van Mpumalanga het eers toe die polisie aan sy deur kom klop, uitgevind dat die hoof van ‘n onwettige mynsindikaat in Gauteng, Zingai Dhliuwayo na bewering sy naam en identiteisnommer gesteel het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig boere in Noord-Oos Vrystaat is gekant teen planne om aardgas te ontgin. Die boere in die Frankfort-Heilbron-gebied is bang oor moontlike besoedeling.
Tweedens skryf die koerant oor die nuwe Mej Suid-Afrika, Mia le Roux wat Saterdagaand in Pretoria aangewys is.
En laastens word berig die veiligheid by die Hoërskool Overberg is opgeskerp ná die moord op die 16-jarige Deveney Nel. Haar liggaam is op die skool se perseel gevind.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Wes-Kaap het ‘n tekort aan een-duisend-vyf-honderd-55 speurders. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die polisie landswyd 5,4-miljoen dossiere afgesluit het sonder dat die ondersoek afgehandel is.
En tweedens skryf die koerant soos Beeld ook oor die Olimpiese Spele.
# En Cape Times:
Skryf die ondersoek na die burgerskap van die voormalige Mej Suid-Afrika finalis, Chidimma Adetshina word steeds voortgesit.
En berig wat die Olimpiese Spele betref, het Suid-Afrika ses redes om trots te wees.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig miljoene rand se skade is aangerig, vyf vragmotors is uitgebrand en die bestuurder van een is in die hospitaal ná betogings oor dienslewering in Nelson Mandelabaai.
En tweedens skryf die koerant ’n vrou van Nelson Mandelabaai is ná ‘n skrikwekkende week waartydens sy deur sewe gewapende mans gevange gehou is, op die vooraand van Vrouedag vrygelaat.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Berig die lede van die MK-party het ‘n dringende beroep gedoen vir ‘n verkiesingskongres sodat wettige strukture opgerig kan word.
# En The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die struwelinge in die bestuur van die Comrades-marathon verskerp steeds.
En berig ook oor die afsluiting van die Olimpiese Spele in Parys.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Kabinet van Namibië het die vergoeding vir enige gestremdheid wat voortspruit uit mens-dier-konflik verdubbel tot 100-duisend-rand. Die nuwe tarief tree op 1 September in werking.
En tweedens skryf die koerant Karibib het ‘n belangrike mylpaal behaal nadat 151 huise in die Harambee-informele nedersetting vir die eerste keer elektrisiteit gekry het.