Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Desember 2023:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Nasionale Gesondheidsversekeringswetsontwerp is nou in die hande van president Cyril Ramaphosa. Die DA verwys daarna as ‘n gevaarlike dobbelspel.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens die polisie patroleer die R-556 na Sun City in Noordwes nadat daar twee afsonderlike aanvalle op toeriste aangemeld is.
Tweedens skryf die koerant oor die duisende studente wat tans die sogenaamde matriekmakieties in Mosselbaai en Jeffreysbaai bywoon. Streng veiligheidsmaatreëls is by die Matriek-baai- en Plett Rage-geleenthede getref.
En laastens word berig die veroordeelde kindermoordenaar, Lauren Dickason sal in Februarie gevonnis word.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê die direkteure en uitvoerende hoofde van die banke wat die rand gemanipuleer het, moet in hul individuele hoedanigheid vervolg word vir die skade wat hulle die land se ekonomie berokken het. Hy sê dis niks minder nie as ‘n misdaad teen die die land se mense.
# En Sowetan:
Berig ‘n direkteur van Ezulweni Investments, Ashnee Ramdas sê hulle het reeds sowat ‘n miljoen rand bestee aan regskoste om skuld van nagenoeg 102-miljoen-rand van die ANC te verhaal. Fikile Mbalula sê egter Ezulweni het nooit plakkate aan die ANC verskaf nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die bestuursprobleme met drinkwater in die land wat deur twee onlangse verslae uitgewys is. Feitlik die helfte van drinkwater raak verlore voordat dit die verbruiker bereik en sowat 46-persent is nie mikrobiologies veilig nie.
En tweedens skryf die koerant daar is ‘n gedenksteen vir die 23-jarige vermoorde Charl Hertzog op die familieplaas in Hoopstad opgerig. Hy is vroeër vanjaar in Illinois in die VSA doodgeskiet.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die maande lange luukse verblyf vir ‘n polisie-distrikskommissaris aan die Weskus. Generaal-majoor Sizakhele Dyantyi woon nou reeds vir sowat 17-maande in die vierster Saldanha Bay-hotel. Die koste beloop reeds meer as ‘n miljoen rand.
Dan skryf die koerant passasiers wat oor die feestyd vlugte bespreek sal streng moet waak oor hul handbagasie se inhoud en gewig. Streng beheermaatreëls word ingestel.
En laastens is daar nuus oor ‘n winkeleienaar van Kaapstad wat vasgetrek is oor ‘n olifantpoot, jakkals- en ottervelle en die bas van bedreigde boomspesies wat hy in sy besit gehad het.
# En Cape Times:
Skryf ook die NGV-wetsontwerp is nou in Ramaphosa se hande.
En berig reddingswerkers van Gift of the Givers vertel gruverhale oor die omstandighede in Gaza.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Gary van Niekerk wil nou hê die besluit om die raad van die Mandelabaai Ontwikkelingsagentskap te ontbind moet omgekeer word. Hy wil ook hê die aanstelling van die agentskap se uitvoerende hoof, Anele Qaba moet heroorweeg word.
En tweedens skryf die koerant tien openbare skole in die Nelson Mandelabaai-onderwysdistrik is die afgelope week deur gewapende rowers oorval en in twee gevalle is die skoolhoofde geskiet.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Het dieselfde hoofberig as The Star/Pretoria News oor Mbalula se uitsprake oor die manipulasie van die rand.
# En, Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die DA sê hy is bekommerd dat nog van sy lede se lewens in gevaar is nadat die party se hoofsweep in die uMngeni-munisipaliteit, Nhlalayenza Ndlovu vermoor is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Staan vandag sy hele voorblad af aan die omstrede Fishrot-verhoor wat môre in Windhoek begin. Die koerant berig die kantoor van die regbank het joernaliste daaraan herinner dat geen beeldmateriaal of klankgrepe van die hofverrigtinge sonder toestemming opgeneem mag word nie.
En tweedens word die hoop uitgespreek dat die verhoor wel sal voortgaan aangesien twee verdedigingsprokureurs gister afwesig was.