Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Desember 2023:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig al die probleme wat Suid-Afrika ondervind, het ‘n regstreekse negatiewe uitwerking op die ekonomie wat die afgelope kwartaal met 0,2-persent ingekrimp het. Dit verhoog die gevaar dat die land in ‘n tegniese resessie sal beland.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig volgens die regering se Bloudruppelverslag wat deur die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu bekend gestel is, is byna die helfte van die land se drinkwater nie geskik vir menslike gebruik nie. Metropolitaanse gebiede vaar luidens die verslag redelik goed.
En tweedens skryf die koerant oor hulde aan die sewejarige Dwayne Veldman van Heidelberg in Gauteng wat skielik aan ‘n hartstilstand oorlede is. Hy is met ‘n seldsame defek gebore wat sy hart aangetas het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die Zimbabwiese regering sê hy is nie bewus van enige kinderhandel nie. Volgens die land se Departement van Openbare Diens, Arbeid en Maatskaplike Welstand is 124 kinders teruggestuur en nie 433 soos die Suid-Afrikaanse grensowerheid berig het nie.
# Sowetan:
Berig die staat skuld sakeondernemings 4,7-miljard-rand met die Oos-Kaap se skuldlas wat die hoogste is. Entrepeneurs sê hulle word van bakboord na stuurboord gestuur en daar is duisende onbetaalde fakture.
# En The Citizen:
Skryf terwyl die Gautengse premier, Panyaza Lesufi probeer terugkrabbel oor sy belofte dat Soweto se kragskuld afgeskryf gaan word, meen kenners Lesufi het geweet wat hy gesê het en dit kom neer op ANC-opportunisme.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die moord op die 16-jarige Machaka Radebe van Rocklands en skryf die polisie ondersoek die moontlikeid van ‘n sindikaat of reeksmoordenaar. Drie vroue het die afgelope maand in Bloemfontein verdwyn.
En tweedens skryf die koerant ook oor Suid-Afrika se drinkwater.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig twee vermeende rowers wat ‘n groep fietsryers op Vlaeberg wou aanval, het hul rieme styfgeloop toe die fietsryers hulle met klippe bestook het. Die twee mans is in hegtenis geneem en die vermoede bestaan dat hulle by ander rooftogte ook betrek kan word.
En tweedens skryf die koerant meer as 88-duisend skoolmeisies tussen 15- en 19-jaar het die afgelope boekjaar in Suid-Afrika swanger geword. Die parlementêre veelparty vrouekoukus sê “seksbehepte mans” moet van verkragting aangekla word.
# En Cape Times:
Skryf die gehalte van Suid-Afrika se water het nou krisisafmetings aangeneem.
En berig die minister van Gesondheid, Joe Phaahla het die aanvalle op hospitale veroordeel.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die tydelike en onwettige kragaansluitings wat in die meeste townships voorkom, het ‘n negatiewe uitwerking op die kragnetwerk en veroorsaak chaos vir Eskom.
En skryf ‘n hofaansoek om Nelson Mandela se dogter en sy voormalige bewaarder te keer om van sy besittings in die VSA te verkoop, het misluk.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die opeenhoping van vragmotors by die Durbanse hawe is volgens die IVP ‘n tikkende tydbom. Die party het die regering se hantering van die krisis gekritiseer en sê die vragmotorbestuurders is maklike teikens vir misdadigers.
# En Witness in Pietermaritzburg:
Berig die verdeeldheid in ANC-geledere in KwaZulu-Natal is steeds besig om uit te kring.
En skryf oor drie matriekleerders wat in ‘n motorongeluk omgekom het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig drie van die sogenaamde Fishrot-beskuldigdes wil vrygelaat word om ’n sterk verdediging teen die aanklagte wat hul in die gesig staar voor te berei.
En tweedens skryf die koerant verder oor die Reidel-moordsaak. ’n Plaaswerker het getuig dat hy gesien het hoe die twee moordbeskuldigdes vir Brunhild Reidel gegryp en in die plaashuis gedwing het.