Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die leier van die MK-party in die Parlement, John Hlophe wil hê daar moet ‘n parlementêre oorsigkomitee oor die Presidensie wees om onder meer toesig te hou oor die staatsondernemings wat onder die Presidensie val.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig president Cyril Ramaphosa sê elke departement, owerheid en die gemeenskap moet saamwerk om klimaatsverandering die hoof te bied en daarby aan te pas.
Tweedens skryf die koerant oor die agt Blou Bul-spelers wat in die Springbok-groep vir die Rugbykampioenskap opgeneem is Die bestuurshoof van die Blou Bulle-Rugbyunie, Willem Strauss sê dit dui op sukses.
En laastens is daar nuus oor die skoolkalender vir 2025. Leerders gaan vier dae minder op die skoolbanke deurbring as vanjaar.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die voormalige minister van Intelligensie, Lindiwe Sisulu het ‘n strafregtelike klag ingedien teen Goolam Muhammed Suliman Vawda, op sosiale media bekend as @Goolammv. Vawda word daarvan beskuldig dat hy sy sosialemedia-platform gebruik om haatspraak te versprei teen diegene wat teen president Cyril Ramaphosa gekant is.
En tweedens word berig die leier van Al Jama-ah, Ganief Hendricks sê die burgemeester van Johannesburg, Kabelo Gwamanda gaan nie sy pos ontruim nie.
# En Sowetan:
Berig dit het in die Senzo Meyiwa-moordsaak aan die lig gekom dat die beweerde skieter, Mthobisi Mncube volgens sy selfoongebruik nie by die moordhuis was toe Meyiwa geskiet is nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens oor die treurspel wat in die Chris Hani-woonbuurt in Mangaung afgespeel het toe ‘n weermaglid, Goitsemodimo Pampier sy vrou Zaki Mdazuka met ‘n mes aangeval en hul huis aan die brand gesteek het. Pampier is in die brand dood en hul twee kinders het by die hospitaal gesterf. Mdazuka word behandel.
Dan skryf die koerant die plaas Buffelsfontein in die Noord-Kaap was die week die koudste met ‘n temperatuur van minus 9,1-grade.
En laastens is daar nuus oor die poging tot moord-klag teen Albertus Steenkamp van Calvinia. Die klaer het glo geen beserings gehad ná die voorval nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n speler van die Durbanville-Bellville-rugbyklub, die 23-jarige Brandan Botha is dood in ‘n motorongeluk kort ná ‘n rugbyoefening.
En tweedens skryf die koerant ook oor die 2025-skooljaar.
# En Cape Times:
Skryf die Nasionale Vervolgingsgesag sê hulle saak teen die voormalige minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa is gereed om voort te gaan.
En tweedens word berig die MK-party is nie bekommerd oor die DA se hooggeregshofaansoek om John Hlophe uit die Regterlike Dienskommissie te verwyder nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor ‘n aanval op ‘n huis in Zwide toe gewapende mans op ‘n gesin losgebrand het. Twee mense insluitende ‘n elfjarige seun is doodgeskiet.
En tweedens skryf die koerant die man wat aangekla word van die ontvoering van ‘n Chinese sakeman van Noordeinde is borgtog geweier.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Vra vandag die vraag of bomdreigemente terreurdade is. Dit volg nadat die Durban-landdroshof gister ontruim moes word nadat ‘n dreigement ontvang is.
# En The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die groot planne wat beraam word vir die stad se ou skougrond.
En berig Pietermaritzburg gaan ‘n nuwe taxi-staanplek kry.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die gemeenskap van die Tsumkwe-bewaringsgebied sê ’n buffelheining wat vir trofeejag opgerig is in ’n omgewing waar duiwelsklou in oorvloed groei, het hulle verder verarm.
En tweedens skryf die koerant die onwettige oes van en handel in plante in Namibië het die afgelope paar jaar die hoogte in geskiet.