Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 Julie 2024:

NASIONAAL:

# Business Day:

Skryf Anglo American Platinum kyk na ‘n sekondêre notering op die Londense aandelebeurs om sy likiditeit te verdiep, terwyl hy voorberei vir sy skeiding volgende jaar van die moedermaatskappy Anglo American. Die bestuurshoof van Amplats, Craig Miller sê die maatskappy wil sy beleggersbasis verbreed en internasionale aandeelhouers lok.

GAUTENG:

# Beeld:

Berig ‘n voormalige polisiebeampte, die 56-jarige David Knox het onskuldig gepleit vir die moord op die voormalige swaargewigbokser, die 54-jarige Mark Strydom. Knox sê hy het Strydom tydens ‘n woordewisseling uit selfverdediging doodgeskiet.

En tweedens is daar nuus oor Xyla die troetel-jagluiperd wat nou by die SanWild-reservaat naby Gravelotte in Limpopo rehabiliteer word.

# The Star en Pretoria News:

Skryf munisipale skuld kan Eskom se ondergang beteken.

En berig die burgemeester van Johannesburg, Gabelo Kwamanda kan uitgeskop word indien die ANC en Action SA ‘n ooreenkoms in die stad kan bereik.

# Sowetan:

Berig die tweede in bevel by die VBS-bank, Andile Ramavhunga het na bewering 15,3-miljoen-rand in slegs drie dae van die bank se geld geplunder. Die koerant skryf daar is meer as 200 getuies wat teen die 13 beskuldigdes in die saak gaan getuig.

# En The Citizen:

Skryf die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie wil graag F1-wedrenne terugbring Suid-Afrika toe.

VRYSTAAT:

# Volksblad in Bloemfontein:

Berig drie kapers wat die voertuig van Riaan van Deventer in Bloemfontein gekaap het, is in ‘n ongeluk met die voertuig op die Jagersfontein-pad dood. Van Deventer het kort tevore uit die kattebak van die voertuig ontsnap.

En tweedens skryf die koerant die saak van moord en poging tot moord teen Albertus Steenkamp van Boer soek ‘n Vrou-faam het gister in Calvinia hervat met die getuienis deur die lewensmaats van die vermeende slagoffers.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig Kirsten September en haar dogter Ruth is dood toe hul huis in Strandfontein naby Mitchells Plain afgebrand het. Kirsten se man Gary is vir rookinaseming behandel.

En tweedens skryf die koerant oor ‘n Appèlhofbeslissing verlede week dat hommeltuig-hengel steeds onwettig is.

# En Cape Times:

Skryf vakbonde sê die NSFAS moet gestraf word vir sy gebrekkige administrasie met die betaling van studentefondse en nie die studente nie.

En het tweedens nuus oor Wes-Kaapse terreine wat benoem is vir Wêrelderfenisstatus

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die Spesiale Ondersoekeenheid ondersoek ‘n straatligkontrak van 24-miljoen-rand van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit.

En skryf tweedens die GOOD-raadslid Lawrence Troon probeer nou dat die hof die lastereis van 130-duisend-rand teen hom ter syde stel.

KWAZULU-NATAL:

# Daily News in Durban:

Skryf die voormalige burgemeester van eThekwini, Zandile Gumede wat teregstaan op klagtes van bedrog en korrupsie, veg tans om oorlewing in die saak teen haar.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig Namibië trek voordeel uit ’n ooreenkoms waarvolgens ‘n farmaseutiese maatskappy nie sy patentregte vir medikasie vir tuberkulose afdwing nie.

En die koerant skryf tweedens akkommodasiesyfers in die gasvryheidsbedryf toon dat Junie se besettingskoers drie-persent laer is as in 2023 en vier-persent laer as voor die pandemie.