Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Julie 2024:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig president Cyril Ramaphosa het tydens die parlementsopening gisteraand gesê die regering wil die mandjie van noodsaaklike voedselitems wat vrygestel is van BTW uitbrei en beheerde pryse hersien. Volgens Ramaphosa sluit dit die brandstofprysformule in.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Lei met: “GAS(LIGHTING)” Die koerant skryf die magstryd om omgewingsaktivisme gaan nou eers begin.

GAUTENG:

# Beeld:

Berig Ramaphosa het in sy openingsrede gesê die regering van nasionale eenheid gaan die volgende vyf jaar fokus op ekonomiese groei. Hy sê die RNE móét werk want dis ‘n geleentheid vir Suid-Afrikaners wat saamwerk om ‘n sukses te maak.

En tweedens skryf die koerant die beskuldigdes in die Jacques Freitag-moordsaak het in die Pretoria-landdroshof verskyn. Die voormalige minnaars, Rudie Lubbe en Chantelle Oosthuizen sal in aanhouding bly terwyl die polisieondersoek voortgaan.

# The Star en Pretoria News:

Skryf Ramaphosa het erken die land het onder sy presidentskap misluk.

En berig tweedens die bestuurder van die bakkie in die ongeluk waarin 12 mense in Carletonville omgekom het, Gert van Emmenis is op borgtog vrygelaat.

# En Sowetan:

Lei met: “TRUST US TO FIX IT”. Die koerant berig ook oor die parlementsopening en skryf die DA het by geleentheid Ramaphosa toegejuig toe hy beloof het om Suid-Afrika se stede te herbou, die lewenskoste te verlaag en werk te skep.

VRYSTAAT:

# Volksblad in Bloemfontein:

Het dieselfde voorblad as Beeld.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei ook met Ramaphosa se toespraak en het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.

Tweedens skryf die koerant die polisie in Gauteng ondersoek bewerings van die broers Omari en Alli Mustafa wat uit die Meyertonse polisieselle ontsnap het nadat hulle glo in katte verander het.

# En Cape Times:

Skryf die DA is skynbaar nou gereed om Ramaphosa se Phala Phala-kwessie te verdedig.

En berig die toekoms van die omstrede Bela-wysigingswet is onseker.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig alles is op koers by die Beijing Auto Industrial Corporation SA se aanleg in Coega, maar die bestuur het volskaalse produksie vir eers gestaak totdat die vraag dit noodsaak.

En tweedens skryf die koerant Nelson Mandelabaai se poskantore word geteister deur ‘n vlaag misdaad wat so erg is dat verskeie takke gedwing is om te sluit.

KWAZULU-NATAL:

# Daily News in Durban:

Skryf die stadsbestuurder van eThekwini, Musa Mbhele het onderneem om bedrog en korrupsie in die stad uit te roei.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig verskeie opposisiepartye het kritiek uitgespreek teen die Verkiesingskommissie van Namibië vir die wyse waarop die registrasie van kiesers en die voorbereidings vir die verkiesing op 27 November hanteer word.

En tweedens skryf die koerant kommissaris Nelius Becker van die Nasionale Forensiese Wetenskap Instituut van Namibië het in die Hoërhof getuig in die moordverhoor waarin drie Zimbabwiërs teregstaan weens die moord op die negejarige Akundaishe Chipomho.