Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Desember 2023:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig alle oë is nou op Transnet gerig vir ‘n vinnige omkeer nadat Tesourie ‘n reddingsboei van 42-miljard-rand bewillig het. Die finansiële hupstoot is egter gekoppel aan streng voorwaardes.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens ingevolge ‘n bevel van die Hooggeregshof in Polokwane moet die Hoërskool Ellisras in Lephalale eers opgeknap word alvorens nog leerders toegelaat word.
Dan skryf die koerant oor die Suid-Afrikaanse MotoGP-ster, Brad Binder se deelname aan die Dak van Afrika-wedren in Lesotho.
Voorts word berig president Cyril Ramaphosa het het in reaksie op ‘n Hooggeregshofbeslissing dat krag aan hospitale, polisiestasies en skole gelewer moet word, gesê “dit was nog altyd die regering se strategie”.
En laastens is daar nuus dat die hittegolf wat oor Gauteng, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en die Vrystaat voorkom tot môre sal voortduur.
# The Star en Pretoria News:
Berig ook oor die hofbeslissing oor beurtkrag en dat dit allerweë verwelkom word.
En skryf oor die Matric Rage-geleenthede wat deur duisende skoolverlaters bygewoon word.
# Sowetan:
Berig daar is die afgelope drie maande meer as 35 moorde in Diepsloot gepleeg. Die aanvalle op vermeende misdadigers deur vigilantes het ook toegeneem en sewe mans is reeds deur die gemeenskap tereggestel.
# En The Citizen:
Skryf oor die waterprobleme van die inwoners in Protea Glen in Soweto wat reeds vir drie jaar voortduur. Hulle moet om middernag opstaan om genoeg water te tap om te bad voor werk. Die provinsiale regering sê die gebied is oorbou, maar verskaf ook geen watertenkvoertuie nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor duisende lede van die polisie wat vervolg word. Nagenoeg vier-duisend beamptes wat vervolging in die gesig staar is steeds in diens.
Dan skryf die koerant die ouers van ‘n leerder wat seksueel aangerand is, het ‘n eis van miljoene rand ingedien teen die skool waar die voorval gebeur het.
En laastens is daar ook nuus oor die hittegolf.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens die voorsitter van die Milnerton-branderplankry- en mensreddersklub, Charl Jones het sy ete by ‘n vaarwelpartytjie onderbreek om ‘n 14-jarige meisie uit die see te red.
En tweedens skryf die koerant minibus-taxis en groot vragmotors was verantwoordelik vir die meeste ongelukke op Wes-Kaapse paaie die afgelope naweek.
# En Cape Times:
Skryf kenners is in die duister oor waar die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa krag vandaan gaan kry vir die feestyd.
En berig oor wetstoepassers se vinnige optrede om kinderhandel by die Zimbabwiese grens te keer.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig tien mense is die afgelope naweek dood in motorongelukke op Oos-Kaapse paaie.
En skryf vyf jaar nadat klein Twané Booysen doodgeskok is gaan die Nelson Mandelabaai-munisipalteit uiteindelik ‘n deel van die familie se eis betaal.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die IVP het ‘n mosie van wantroue in die burgemeester van eThekwini, Mxolisi Kaunda ingedien en het planne om die stad reg te ruk.
# En Witness in Pietermaritzburg:
Berig oor ‘n persoon wat doodgeskiet is toe hy besig was met inkopies in Pietermariztburg se sakekern.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese regering se diamantbemarkingsmaatskappy, Namib Desert Diamonds het in September vanjaar laas diamante aan sy kliënte verkoop.
En tweedens skryf die koerant daar bestaan kommer oor die gevolge van reuse-opeenhopings van vraghouers by Suid-Afrikaanse hawens. Dit kan tot verhoogde vragverkeer op Namibiese paaie lei.