Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Transnet is ‘n gevoelige slag toegedien nadat die Hooggeregshof beveel het dat die vrag- en spoorgroep 8,5-miljard-rand aan Sasol en TotalEnergies moet betaal in ‘n voortslepende dispuut oor pyplyntariewe.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf die ANC en DA is in dringende samesprekings gewikkel aangesien die partye verskil oor kabinetsposte.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig Belinda en Stefan Bezuidenhout is skuldig bevind aan die moord op en verkragting van hul tweejarige dogtertjie, Chane. Regter Nokate Moko het in die Hooggeregshof gesê haar ouers het alles in hul vermoë gedoen om die kind te vermoor.
Tweedens skryf die koerant bykans al die kaartjies vir Saterdag se kragmeting tussen die Bulle en Glasgow Warriors op Loftus is uitverkoop.
En laastens word berig Solidariteit het ‘n saak in die Arbeidshof gewen waar Brichard Pieterse valslik van rassisme beskuldig is deur haar werknemer.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die IVP sê alle partye is steeds welkom om by die regering van nasionale eenheid aan te sluit.
En berig Gauteng is steeds die digbevolkste provinsie in Suid-Afrika.
# En Sowetan:
Berig die Menseregtekommissie dring daarop aan dat die omstrede DA-LP Renaldo Gouws verskoning vra en 20 uur gemeenskapsdiens doen nadat sy rassistiese uitlatings aan die lig gekom het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig doktor Mantlhake Maboya wat aangestel is as LUR vir Onderwys in die Vrystaat beskik oor ‘n doktorsgraad in opvoedkunde. Daar is ook nuus oor die ander aanstellings in die provinsie se kabinet.
En tweedens skryf die koerant oor die Vrystaatse Crinums wat as kampioene bekroon is in die Nasionale Netballiga.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens die veoordeelde moordenaar Cecelia Steyn en haar meelopers het na bewering ‘n plan beraam om te onsnap.
Dan skryf die koerant die toenemende ontvoerings in die Boland is rede tot kommer.
Voorts word ook berig oor Renaldo Gouws en stappe wat teen hom gedoen word deur die MRK, die DA en die beroep van Cosatu dat hy as LP geskors word.
En laastens is daar nuus oor agt-miljoen-rand se kokaïen wat deur die Valke op ‘n trekker in Pietermaritzburg gevind is.
# En Cape Times:
Skryf ook oor die Menseregtekommissie se verwagte optrede teen Renaldo Gouws.
En berig die DA het nou volle beheer oorgeneem in Beaufort-Wes.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-metroraad kan ontbind word indien die stad se begroting nie binne die volgende 10 dae goedgekeur word nie.
En skryf Renaldo Gouws se voormalige kollegas in die Baai het sy rassistiese opmerkings veroordeel en geëis dat hy as LP verwyder moet word.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die druk neem toe uit talle oorde dat Gouws as LP verwyder moet word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Jandré Dippenaar van Swakopmund is skuldig bevind aan ses aanklagte van moord, asook ’n bykomende klag van roekelose en nalatige bestuur en die bestuur sonder ’n geldige rybewys. Dit volg ná ‘n motorongeluk bykans tien jaar gelede waarin ses mense omgekom het.
En tweedens skryf die koerant die Namibiese Rugby-unie kan na bewering nie toegang kry tot geld van Wêreldrugby nie weens’n beweerde bedrogondersoek wat die uitbetaling kniehalter.