Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die ANC se tugverhoor van sy voormalige leier Jacob Zuma, wat veronderstel was om môre te begin, is weens sekerheidsredes uitgestel. Die party se sekretaris-generaal Fikile Mbalula sê sy kantoor is ingelig dat byeenkomste buite Luthuli-huis tot gewelddadige of ontwrigtende gedrag kan lei.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die beslissing van die Khampepe-kommissie wat die brand in die Usindiso-gebou in Marshalltown ondersoek het. Die kommissie het bevind die Johannesburgse metro is verantwoordelik vir die dood van 76 mense.
Dan word berig oor die voortdurende aanvalle op motoriste waar ysterpenne op deurpaaie geplaas word. Van die aanvalle gebeur nou ook helder oordag op op- en afritte na woongebiede.
En laastens is daar nuus oor die lugskou by die Suid-Afrikaanse Lugmagmuseum by die Swartkops-lugmagbasis in Pretoria.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die Johannesburgse metro wat verantwoordelik is vir die Usindiso-brand.
En berig die huidige vlaag verkoue en griep het niks uit te waai met Covid nie.
# Sowetan:
Berig volgens die Khampepe-verslag moet amptenare van Joburg Water, die Johannesburgse Eiendomsmaatskappy, City Power en Pikitup aanspreeklik gehou word vir die Marshalltown-brand.
# En The Citizen:
Skryf Zuma het die oorhand oor die ANC. Volgens kenners het die ANC oorhaastig opgetree en die uitstel van die tugverhoor is voorspelbaar.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die moord op die 76-jarige Christo Morrison en sy 73-jarige vrou Christa op die plaas Rietfontein in die Glen-distrik buite Bloemfontein. Die polisie het glo reeds verdagtes ondervra.
Dan is daar nuus oor ‘n Cessna 210-vliegtuig wat ‘n noodlanding sonder agterwiele moes uitvoer op die Tempe-lughawe.
En laastens skryf die koerant ‘n warm droë winter word vir die Vrystaat voorspel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die 21-jarige Daniël Grové van Belville wat in ‘n motorfietsongeluk dood is. Hy het skynbaar beheer oor die fiets verloor en ‘n boom getref.
Dan skryf die koerant beurtkrag het die Wes-Kaap sedert 2007 tussen 48- en 61-miljard-rand gekos.
En laastens is daar nuus oor die Kaapstadse metropolisie wat ‘n gesteelde motor met twee pap bande op die N2 aangetref en twee insittendes in hegtenis geneem het.
# En Cape Times:
Skryf Zuma is volgens die MK-party teleurgesteld omdat sy tugverhoor nie voortgaan nie.
En berig ‘n meningsopname het bepaal daar gaan na bewering ‘n lae stempersentasie wees.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ShotSpotter-geweerskootopsporingstelsel in Gqeberha is steeds buite werking ten spyte van die misdaadgolf in die stad.
En skryf die ANC maak staat op Oos-Kaapse steun in sy veldtog teen die MK-party.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf opposisiepartye sê eThekwini se nuwe begroting hou geen voordeel in vir die armlastige inwoners van die stad nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar was geen vlugopnemers aan boord van die vliegtuig wat Vrydag in die hoofstad neergestort en drie lewens geëis het nie.
En skryf tweedens twee vermeende renosterstropers is by Scorpionbelt aan die westekant in die Etosha Nasionale Park doodgeskiet deur lede van die teenstropingseenheid.