Follow Us
NewsFlash: ANC wins battle for eThekwini mayoral position
Wed 24th Nov 2021
News 18:00
Wed 24th Nov 2021
Print Friendly, PDF & Email

NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 24 November 6 nm

Goeiemiddag,

In die bulletin:

# ‘n Oudminister se meineedverhoor word tot môre uitgestel
# Die ANC sal optree teen raadslede wat vir die EFF gestem het
# En Nasa ondersoek die moontlikheid om asteroïede van koers af te stuur

# Die meineed-verhoor van die gewese minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Bathabile Dlamini, sal môre in die Streekshof in Johannesburg hervat nadat dit vanoggend kortgeknip is. Dlamini het onskuldig gepleit en aangevoer indien sy onder eed gelieg het, dit onwetend was. Sy het voor ‘n ondersoekkommissie getuig oor die maatskaplike-toelaag-skandaal in 2017. Die staat het vanoggend uitstel gevra omdat hulle nie genoeg geleentheid gehad het om met die eerste getuie te beraadslaag nie, en om vervoerreëlings te tref vir ‘n ander getuie.

# Die ANC in Noordwes het beloof om op te tree teen raadslede wat ten gunste van die EFF-lid Olebeng Mogorosi gestem het. Mogorosi is met nege stemme teenoor die ANC-kandidaat Doctor Batsi se sewe tot speaker verkies in die beleërde Mamusa Plaaslike Munisipaliteit. Die ANC-lid Hlomani Chauke sê drie van die party se raadslede het bevestig hulle het vir Mogorosi gestem. Chauke sê die regerende party sal sulke optrede nie duld nie.

# Die Britse parlement hersien sy reëls oor die teenwoordigheid van kinders in die Laerhuis nadat ‘n parlementslid haar baba werk toe gebring het. Stella Creasy van die Arbeidersparty sê sy is in ‘n e-pos tereggewys omdat sy haar seun tydens ‘n toespraak vasgehou het. Sy skryf op Twitter die parlement het blykbaar ‘n reël aanvaar dat ma’s in die moeder van alle parlemente nie gesien of gehoor mag word nie. Die speaker Lindsay Hoyle sê hy het die voorsitter van die Prosedurekomitee gevra om die saak te oorweeg.

# Krieket: Suid-Afrika A het sy eerste beurt op ‘n reuse 509 vir sewe gesluit verklaar op die tweede dag van hulle vierdag-wedstryd teen Indië A in Bloemfontein. Kaptein Pieter Malan het 163 lopies behaal, Tony de Zorzi 117 en Sinethemba Qeshile 82. Die gashere het wankelrig begin nadat die besoekers se kaptein, Priyank Panchai, die loot gewen en besluit het om eerste te boul. Sarel Erwee is in die eerste boulbeurt uitgehaal en Raynard van Tonder in die vierde. Malan en De Zorzi het daarna sake gered met ‘n derdepaaltjie-vennootskap van 217 lopies.

# Finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-95-sent teen die dollar, 17-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-971-dollar-9-sent. Die prys van goud is een duisend-782-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-6-sent per vat.

# En Nasa het ‘n ruimteprojek van stapel gestuur om die weg te baan om dit in die toekoms moontlik te maak vir tegnologie om ‘n gevaarlike asteroïde van koers af te stuur. Die Amerikaanse ruimte-agentskap sê sy Dart-sending beoog om uit te vind of dit moontlik is om te verhoed dat ‘n ruimterots met die aarde bots. Die BBC berig die ruimtetuig is op koers om teen ‘n voorwerp te bots en die invloed op die asteroïde se rigting en spoed te bepaal. Die Dart is vanoggend op ‘n Falcon 9-vuurpyl vanaf ‘n ruimtebasis in Kalifornië gelanseer.

Vir die jongste nuusgebeure, bly ingeskakel op ……………….

Our team is here to answer your questions. Editorial questions? Chat to the Editor on duty Free Trial or general questions? Chat to Debbie Technical issues? Chat to our Tekkie
WeCreativez WhatsApp Support
Free Trial / General Enquiries
Debbie Oosthuizen: GM
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Peet Bothma
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Andries Cornelissen
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Lusanda Bill
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Technical Support
Tekkie
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Mariana Vos
Away