NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 19 November 6 nm
Goeiemiddag,
In die bulletin:
# Die ANC se NUK sal ‘n verslag oor moontlike koalisie-ooreenkomste bespreek
# Die DA en ActionSA kry die oorhand in Tshwane en Johannesburg
# En ondersteuners kan uitsien na ‘n naweek vol internasionale rugbywedstryde
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee vergader die naweek om ‘n verslag oor potensiële koalisie-ooreenkomste te bespreek. Dit volg nadat die party gister bekend gemaak het hy het al sy verbintenisse afgehandel met ander politieke partye waarmee hy gaan saamwerk in munisipaliteite waar nie ‘n volsterkte meerderheid behaal is nie. Die ANC sê hy het vennootskappe aangegaan met politieke partye wat daarop gemik is om mense eerste te stel. Die party sê saam met sy vennote sal hy van alle nodige middele gebruik maak om korrupsie te beëindig.
Intussen het verskeie partyleiers in Johannesburg vergader om moontlike koalisies te bespreek. Leiers van die DA, ActionSA, VF Plus, ACDP, UDM en Cope het vandag die pad vorentoe bespreek om minderheidsregerings te vorm. Partye in Johannesburg het besluit om die ANC uit te hou en ActionSA se burgemeesterskandidaat te ondersteun. In die Tshwane-streek het die betrokke partye ooreengekom om die DA se burgemeesterskandidaat te steun. Verdere besprekings tussen die partye sal die naweek voortduur om sake af te handel en vir die toekoms te beplan.
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, sê daar is ‘n toename in alle kontakverwante misdade soos brandstigting en opsetlike beskadiging van eiendom in Suid-Afrika aangeteken. Daar was tussen Julie en September 298 meer gevalle van brandstigting, ‘n toename van 30,2-persent in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Daar is 28-duisend-988 gevalle van kontakverwante misdade by die polisie aangemeld. Cele sê dit is een-duisend-997 meer in vergelyking met die vorige verslagtydperk:
Speel klankgreep: ENGBhekiCelefour
# Die Oostenrykse regering het aangekondig daar sal van Maandag af ‘n algehele nasionale inperking wees en die land is ook die eerste in Europa om ‘n wet te aanvaar wat Covid-19-inentings verpligtend maak. Die maatreëls is aangekondig ná ‘n skerp toename in gevalle weens die vierde vlaag. Sky News berig die kanselier, Alexander Schallenberg, sê die inperking behoort nie langer as 20 dae te duur nie. Verpligte inenting sal op die eerste Februarie in werking tree.
# Rugby: Ondersteuners kan weer uitsien na ‘n naweek vol internasionale wedstryde. Die hooffokus sal op die Wêreldbeker-wraakwedstryd tussen die Springbokke en Engeland wees wat môremiddag kwart oor vyf afskop. Skotland takel Japan op Murrayfield terwyl Italië optree as gasheer vir Uruguay. Georgië en Fidji sal sake uitspook, en Roemenië draf uit teen Tonga. Wallis en Australië kom teen mekaar te staan op die Principality-stadion in Cardiff. Môre se laaste toets is dié tussen Frankryk en die All Blacks in Parys. Sondag se kragmeting is tussen Ierland en Argentinië in Dublin.
# Finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-66-sent teen die dollar, 17-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-771-dollar-1-sent. Die prys van goud is een duisend-859-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-43-sent per vat.
Vir die jongste nuusgebeure, bly ingeskakel op ……………….