Nuus 18:00
BULLETIN 28 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se Etiekkomitee gee adjunkpresident Mashatile sewe dae om te reageer op bewerings van korrupsie
# Die skrapping van Gauteng se e-tolstelsel word in die Staatskoerant aangekondig
# En, president Ramaphosa wens alle Suid-Afrikaners ‘n goeie Paastyd toe
# Die Parlement se Etiekkomitee het adjunkpresident Paul Mashatile sewe dae gegee om te reageer op bewerings van korrupsie teen hom. Die DA het ‘n klagte ingedien na berigte oor Mashatile se gebruik van luukse huise wat deur familie en vriende besit word, asook bewerings dat hy voordeel uit staatstenders getrek het. News24 berig Mashatile se skoonseun, Nceba Nonkwelo, het verlede jaar ‘n huis van 28,9-miljoen-rand in Constantia, Kaapstad, deur sy onderneming gekoop. Mashatile het in die Nasionale Vergadering die ondersoek erken en onderneem om binne die gegewe raamwerk aandag te skenk aan die beskuldigings.
# Gauteng se e-tolstelsel sal op 12 April geskrap word. Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, het die kennisgewing vandag in die Staatskoerant publiseer. Dit bepaal die e-tol-verklaring op dele van die N1, N3, N4, N12 en R21 sal op dié datum onttrek word. Daar is geen besonderhede oor terugbetalings of wat met motoriste se skuld gaan gebeur nie.
# President Ferdinand Marcos sê die Filippyne sal nie deur China tot stilwye intimideer word na konfrontasies in die Suid-Chinese See waarin Filippynse soldate gewond en vaartuie beskadig is nie. Hy sê die Filippyne sal reageer met ‘n teen-aanval wat proporsioneel, opsetlik en redelik is in die lig van oop, onophoudelike en onwettige, dwingende, aggressiewe en gevaarlike aanvalle. Marcos se opmerkings kom na die jongste botsing in die bestrede waterweg. Die Chinese Kuswag het waterkanonne afgevuur op ‘n Filippynse vaartuig wat voorrade vervoer het na soldate op ‘n afgeleë rif.
# Rugby: Die Springbokke Ox Nché, Vincent Koch en Bongi Mbonambi sal die Haaie se skrum anker in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Edinburgh in Durban. Die hoofafrigter, John Plumtree, het Ntuthuko Mchunu met Koch vervang, terwyl Hanru Jacobs plek maak vir Nché. Dit is van die verskeie veranderings aan die span wat Ulster verlede naweek geklop het. Koch het sy spanmaats gewaarsku die Skotse span gaan heelwat anders lyk as die een wat in Kaapstad teen die Stormers verloor het toe ‘n aantal van hul toetsspelers gerus het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 24-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-853-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-206-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-21-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika se Christelike denominasies ‘n goeie Paastyd toegewens en bepleit ‘n vreedsame en veilige vakansie. Hy het die belangrikheid van gebede, gesinsverbindings en gemeenskapsondersteuning beklemtoon. Sy woordvoerder, Vincent Magwenya, het Ramaphosa se oproep beklemtoon vir verantwoordelike gedrag om tragedies te voorkom, veral op paaie en by openbare byeenkomste:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….