Nuus 18:00
BULLETIN 27 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom skort beurtkrag op tot Sondag
# Die GOOD party vra kiesers om die Gautengse premier aanspreeklik te hou vir sy e-tolbeloftes
# En, tennis: Djokovic gee sy afrigter die trekpas na 12 Grand Slam-titels
# Eskom het goeie nuus voor die Paasnaweek: beurtkrag word tot Sondagmiddag 4-uur opgeskort. Dit is te danke aan die volgehoue beskikbare opwekkingsvermoë en die beplande herstel van twee-duisend-300 megawatt-opwekkingsvermoë teen vandag, tesame met die verwagte laer vraag oor die langnaweek. Eskom sal Sondagmiddag ‘n opdatering verskaf vir die week wat voorlê, of dit deurgee indien enige beduidende veranderings plaasvind.
# Met die sperdatum wat nader kruip, vra die GOOD Party kiesers om die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, aanspreeklik te hou vir sy e-tol-beloftes. Lesufi het in sy provinsiale rede beloof die e-tolstelsel sal op 31 Maart afgeskakel word. Volgens die party is dit nie die eerste keer dat sulke beloftes gemaak word nie en het soortgelyke ondernemings in 2022 deur die mat geval. Die party se nasionale voorsitter, Matthew Cook, sê kiesers kan hul ontevredenheid oor die leë beloftes op 29 Mei by die stembus uitspreek:
# Meer migrante as in enige ander soortgelyke tydperk het sedert die begin van 2024 met klein bootjies in Brittanje aangekom nadat hulle die Engelse Kanaal vanaf noord-Frankryk oorgesteek het. Voorlopige syfers deur die Britse regering toon vier-duisend-644 ongedokumenteerde mense het tot dusver vanjaar die vaart aangepak. Dit is die hoogste syfer ooit in die eerste drie maande van enige jaar, wanneer daar gewoonlik minder gevalle is weens die ontuimige wintersee. Migrasie is tans ‘n groot politieke kwessie in Brittanje met die land wat voorberei vir ‘n algemene verkiesing later vanjaar.
# Tennis: Wêreld nommer-een Novak Djokovic van Serwië en sy afrigter van die afgelope vyf jaar se paaie het geskei. Sy vennootskap met die voormalige wêreld nommer-twee, Goran Ivanisevic van Kroasië, het 12 Grand Slam-titels opgelewer. Djokovic se seisoen voldoen tot dusver nie aan sy eie hoë standaarde nie. Hy is in die halfeindstryd van die Australiese Ope uitgeskakel, en in die derde ronde van Indian Wells. Djokovic sê op sosiale media hy en Ivanisevic het besluit hulle paaie skei, maar hy sal altyd die 2001 Wimbledon-kampioen as ‘n vriend beskou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-711-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-193-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-7-sent per vat.
# En ten slotte: TB-hospitale in die Oos-Kaap is gesluit weens ‘n afname in vraag. Volgens die LUR vir Gesondheid, Nomakhosazana Meth, het die aantal pasiënte wat in hospitale opgeneem moes word, oor die jare afgeneem. Sy beskou dit as ‘n teken dat die provinsie vordering maak met TB-behandeling. Meth vra alle TB-pasiënte om vol te hou met hulle behandeling:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….