Nuus 18:00
BULLETIN 10 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa praat Sondag met die nasie oor nasionale veiligheid
# ‘n Mexikaan word borgtog geweier nadat hy aangekla is van moord op ‘n jong Suid-Afrkaanse vrou in die Bahamas
# En Musk en Trump haal die nuus oor al die verkeerde redes
# President Cyril Ramaphosa gaan Sondagaand die nasie toespreek oor ernstige nasionale veiligheidskwessies. Dit volg nadat die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, skokkende bewerings gemaak het wat die minister van Polisie, Senzo Mchunu, en top polisie- en politieke leiers met dwelmkartelle en misdaadsindikate verbind. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa was op ‘n BRICS-beraad in Brasilië toe die bewerings na vore gekom het:
# ’n Mexikaanse bemanningslid van ’n super-seiljag is borgtog geweier nadat hy aangekla is van die moord op ‘n Suid-Afrikaanse kollega in die Bahamas. Die liggaam van die 20-jarige Paige Bell van Johannesburg is op die boot gevind op ‘n klein eilandjie. Die 39-jarige beskuldigde, Brigido Munoz, is naby gevind met wonde wat moontlik opgedoen is gedurende ‘n selfdood-poging. Bell was veronderstel om volgende week vir haar 21ste verjaarsdag huis toe te kom. Munoz sal in aanhouding bly tot sy verhoor in November begin.
# Die Europese Unie beskou die anti-Semitiese opmerkings van Elon Musk se klets-bot, insluitend lof vir Adolf Hitler, as uiters ernstig. Skermgrepe op X het verskeie plasings gewys deur die bot, Grok, waarin hy die Nazi-leier prys wat die moord op ses-miljoen Jode bewerkstellig het. Daar was ook beledigende aanmerkings oor Islam en die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, waarop ‘n hof in daardie land die plasing verban het. Die EU se woordvoerder oor digitale aangeleenthede, Thomas Regnier, bevestig dat Pole hom gevra het om Grok te ondersoek.
Musk se gewese goeie vriend, die Amerikaanse president, Donald Trump, het intussen sy Liberiese ampsgenoot, Joseph Boakai, geprys vir sy sterk begrip van Engels. Trump het op ‘n vergadering met die leiers van Liberië, Gaboen, Guinee-Bissau, Mauritanië en Senegal gesê die lande is almal baie lewendige plekke met baie waardevolle grond, wonderlike minerale, groot olievelde en fantastiese mense. Liberiërs en ander Afrikane is egter bekommerd oor Trump se opmerking, wat meestal as neerhalend beskou word en nie as ‘n kompliment nie:
# Rugby: David Havili en Lukhan Salakaia-Loto is aangewys as mede-kapteins van die saamgestelde Australies-Nieu-Seelandse span gelaai met Wallabies en All Blacks vir Saterdag se wedstryd teen die Britse en Ierse Leeus in Adelaide. Afrigter Les Kiss het 17 toetsspelers gekies vir die Leeus se laaste opwarmingswedstryd voor volgende Saterdag se eerste toets teen Australië in Brisbane. Die gesamentlike span, wat die eerste keer sedert 1989 kragte saamsnoer, kan die Leeus se grootste uitdaging van die toer tot dusver wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-854-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-315-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….