Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society beloof om voort te gaan om toesig te hou oor dominee Liezel de Jager se saak
# Floyd Brink se appèl oor sy aanstelling as stadsbestuurder word van die hand gewys
# En, rugby: Jake White is ingenome om Willie le Roux op Loftus te hê
# Action Society onderneem om ‘n ogie te hou oor die saak van die KwaZulu-Natalse NG-predikant Liezel de Jager nadat haar man, Werner, van haar moord aangekla is − 775 dae na haar dood. Die predikant se liggaam is op 13 Oktober 2021 in die oprit van hulle huis in Amanzimtoti aangetref. Die burgerregtegroep is tegelykertyd verheug en ontnugter oor die vertraging met die saak, en verklaar Werner was uit die staanspoor ʼn persoon van belang. Hy word aangehou tot hy volgende Donderdag weer in die plaaslike landdroshof moet verskyn.
# Die voormalige stadsbestuurder van Johannesburg, Floyd Brink, se appèl teen die uitspraak van die Hooggeregshof in Gauteng, wat bevind het sy aanstelling was ongrondwetlik, is van die hand gewys. Die DA het Brink se aanstelling betwis en ‘n dringende aansoek om hersiening ingedien. Waarnemende regter in die Hooggeregshof, Steven Budlender het onlangs bevind die aanstelling was prosedureel gebrekkig, onregmatig en ongeldig. Die stad beweer egter onderduimse politieke inmenging was agter die pogings om Brink te verwyder. Die stad sê ook die volgehoue politieke aanslag, en pogings om die stad se vermoë om dienste te lewer en bestuur te verbeter, te laat ontspoor, is onaanvaarbaar.
# Eskom het aangekondig fase 4-beurtkrag sal deur die week tot Saterdag voortduur. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokoena, sê dit is weens ‘n groter vraag as verwag en noodreserwes wat onder druk verkeer. Mokoena sê 22-duisend-244 megawatt se opwekkingsvermoë is nie beskikbaar nie en ‘n spits-aandvraag word verwag wat 28-duisend megawatt oorskry. Sy het die aankondiging gedoen nadat die land verlede week onderwerp is aan fase 6-beurtkrag:
# Rugby: Die Bulle gee vroeg die toon aan onder die Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Pretoria-span is na ses rondes derde op die punteleer, na Glasgow Warriors en Leinster. Dit is nadat hulle Connacht Saterdag op Loftus Versfeld met 53-27 geklop het met heelagter, Willie le Roux, wat sy debuut vir die Bulle gemaak het. Afrigter Jake White, is baie ingenome om Le Roux in sy span te hê:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-836-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-11-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-14-sent per vat.
# En laastens: Die minister in die Presidensie vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Nkosazana Dlamini-Zuma, moedig mans aan om standpunt in te neem vir die veiligheid van vroue en meisies regoor die vasteland van Afrika. Dlamini-Zuma was ʼn spreker tydens die derde Manskonferensie oor Positiewe Manlikheid van die Afrika-unie in Pretoria. Sy beklemtoon dit is noodsaaklik dat mans hul stemme verhef en bewustheid teen geslagsgeweld en vrouemoord bevorder. Volgens haar gaan die tweedaagse konferensie hom verdiep in sosiale strategieë om kwessies aan te spreek wat vroue en kinders raak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….