Nuus 18:00
BULLETIN 6 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier verwerp aansprake dat die party spoke opjaag in ‘n verkiesings-advertensie
# Eskom beklemtoon kragstasies se sleutelrol in die beurtkragvrye tydperk
# En, rugby: Die Haaie se losskakel behaal sukses op die ouderdom van 27
# Die DA se nuwe verkiesings-advertensie waarin Suid-Afrika se vlag brand om te waarsku teen ‘n koalisie tussen die ANC en die EFF word op sosiale media uitgekryt. Die voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela sê dit is ondeurdag, want hoewel vlagverbranding nie onwettig is nie, jaag die advertensie spoke op. Die DA-leier John Steenhuisen verdedig dit, en verwys na bestaande samewerking tussen die ANC en die EFF in sommige stede:
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, prys verskeie kragstasies vir hulle rol in Suid-Afrika se 40 dae sonder beurtkrag. Hy sê Eskom-aanlegte se energiebeskikbaarheidsfaktor het verbeter tot 58,99-persent. Ramokgopa merk op daar is sedert die begin van die maand geen diesel- of oopsiklus-gasturbines gebruik om beurtkrag te verminder nie. Hy verwerp ook gissings dat Eskom sy pad uit beurtkrag oopkoop:
# Brandweerpersoneel van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit gee aandag aan stellasies wat ingetuimel het op ‘n bouterrein in Victoriaweg in George. Die munisipaliteit het sy hoofgebou as ‘n veiligheidsmaatreël gesluit tot verdere kennisgewing. Die publiek word versoek om die gebied om veiligheidsredes te vermy en noodvoertuie toegang toe te laat. Motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik aangesien die toegang na Victoriaweg vanaf Yorkstraat gesluit is. Nooddienste is op die perseel en ambulanspersoneel sien om na verskeie pasiënte.
# Palestyne begin dele van Oos-Rafah in Gaza verlaat nadat Israel 100-duisend mense aangeraai het om na ‘n uitgebreide humanitêre sone te beweeg. ‘n Aanslag word verwag in die stad, waar meer as 1,4-miljoen mense skuil. Die Israelse Weermag sê dit is ‘n operasie van ‘n beperkte omvang en nie ‘n grootskaalse ontruiming van Oos-Rafah nie. ‘n Hamas-amptenaar noem die ontruimingsopdrag ‘n gevaarlike toename in geweld. Meer as 34-duisend-700 mense is in Gaza dood sedert Hamas-vegters op 7 Oktober die suide van Israel ingeval het.
# Rugby: Die Haaie kom op 24 Mei in die Tottenham-stadion teen Gloucester te staan in die eindstryd van die Uitdaagbeker-kompetisie. Die losskakel, Siya Masuku, is die derde agtereenvolgende keer as speler van die wedstryd aangewys nadat hy 22 punte aangeteken het om die Haaie te help om Clermont in die halfeindstryd 32-31 te klop. Masuku het laat ontluik, op die ouderdom van 27, maar afrigter John Plumtree sê hy speel net al beter:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-994-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-329-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….