Nuus 18:00
BULLETIN 23 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zondo onthul die meeste korrupsie gebeur by die staat se verkrygingstelsel
# Solidariteit moedig werkgewers aan om regstellende optrede-planne te staak te midde van regsonsekerheid
# En rugby: Harry Potter ontken Woodward se bewering dat die Wallabies ‘n verloor-metaliteit het
# Die voormalige hoofregter, Raymond Zondo, sê die meeste korrupsie word by staatsverkryging gepleeg. Zondo het tydens die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se teenkorrupsie-konferensie in Johannesburg onthul dat meer as 800-miljard-rand jaarliks bestee word, met verkrygingswette wat dikwels misbruik word. Zondo het die stigting van ‘n onafhanklike teenkorrupsie-agentskap bepleit om openbare tenders te monitor, soos deur die staatskapingskommissie aanbeveel, en waarsku die Tesourie se toesig is onvoldoende om wydverspreide misbruik te voorkom:
# Die vakbond Solidariteit waarsku werkgewers om nie rasgebaseerde werkverskaffingsplanne teen 1 September voor te lê nie, en sê daar is kommer oor die wettigheid van nuut-gepubliseerde regeringsregulasies. Die vakbond het regstappe gedoen en meen die regulasies wat deur die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, bekend gemaak is, is ongrondwetlik en gebrekkig. Pieter Jordaan van Solidariteit moedig werkgewers aan om voorbereidings vir regstellende optrede te staak, rasgebaseerde aanstellings te stop, en voor die sperdatum om vrystelling aansoek te doen:
# Die Johannesburgse Aandelebeurs se Alle Aandele-aanwyser het vandag deur die belangrike mylpaal van 100-duisend punte gebreek. Die aanwyser is vanjaar byna 20-persent hoër. Die uitvoerende hoof van die JSE-groep, Leila Fourie, sê die prestasie is nie slegs ‘n syfer-mylpaal nie, maar ‘n kragtige weerspieëling van die veerkragtigheid, vernuwing en bedryfs-uitnemendheid van maatskappye wat op die beurs genoteer is. Sy sê dit wys dat beleggers steeds hul vertroue in die Suid-Afrikaanse mark en in die vermoë van genoteerde maatskappye plaas om groei aan te dryf en goeie waarde te lewer.
# Rugby: Die Wallabie-vleuel Harry Potter het die voormalige Engelse afrigter, Clive Woodward, se kritiek verwerp dat die Wallabies ‘n verloor-mentaliteit het. Woodward, wat as afrigter ‘n Wêreldbeker saam met Engeland gewen het, het kaptein Harry Wilson gekritiseer omdat hy die bal uitgeskop het eerder as om ‘n troosdrie te probeer aanteken gedurende Australië se nederlaag van 27-19 in die eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus. Potter het Woodward se bewering as onregverdig beskryf:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-en-60-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-412-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-65-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Alge-opbloei het die Suid-Australiese kuslyn groen verkleur en tot groot seelewe-vrektes gelei. Die staat se premier, Peter Malinauskas, sê die verskynsel is ‘n natuurramp wat volgens wet as sodanig verklaar moet word. Die alge-opbloei kom natuurlik voor, maar word veroorsaak deur die verwarming van die oseane, see-hittegolwe en die besoedeling van voedingsbronne in die see – alles regstreekse gevolge van klimaatsverandering. Die alge-opbloei het in Maart begin, is reeds twee maal groter as die oppervlak van die Australiese Hoofstadgebied en het dooie seediere aan die kus laat uitspoel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….