Nuus 17:00
BULLETIN 4 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mapisa-Nqakula kry borgtog van vyftig-duisend-rand
# Saftu sê die Corruption Watch-verslag ontbloot diepgewortelde korrupsie
# En, rugby: Jake White vra die oorsese Springbokke om terug te kom huis toe
# Die Landdroshof in Pretoria het borgtog van 50-duisend-rand toegestaan aan die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. Sy word beskuldig van die ontvang van omkoopgeld van meer as twee-miljoen-rand. Die staat het nie borgtog teengestaan nie weens haar gesondheid en vrywillige oorgawe aan die polisie. Landdros Anna Oosthuizen sê die hof is tevrede Mapisa-Nqakula se vrylating is in die belang van geregtigheid:
Die vakbondfederasie Saftu sê intussen die groeiende korrupsiekrisis veroorsaak diepe kommer, soos uitgespel in die onlangse Korrupsie-aanwyser. Corruption Watch se jongste bevindings het onthul korrupsie het twaalf jaar lank hoog gebly, met meer as twee-duisend klagtes in sektore soos mynbou, wetstoepassing en die sakewêreld verlede jaar. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê van onwettige mynbou tot omkopery in wetstoepassing, bedreig korrupsie se wydverspreide aard maatskaplik-ekonomiese bestendigheid. Hy vra dringende optrede om openbare vertroue te herstel:
# Reddingwerkers in Taiwan probeer uitkom by meer as 600 gestrande mense, ‘n dag nadat die eiland sy ergste aardbewing in 25 jaar beleef het. Die skudding met ‘n sterkte van 7,4 was naby die oostelike streek Hualien. Nege mense is dood en meer as ‘n duisend beseer. Van dié wat vasgekeer was in tonnels en naby ‘n nasionale park is met helikopters gered, maar 34 mense word nog vermis. Die aardbewing is gevolg deur meer as 200 naskokke, waarvan tientalle ‘n sterkte van 6,5 of meer gehad het.
# Rugby: Die Bulle berei voor om die Franse klub Lyon Saterdag vir ‘n Kampioenebeker-kragmeting op Loftus Versfeld in Pretoria te verwelkom. Hulle hoop om vinnig weer op hulle voete te wees na Vrydag se loesing teen Leinster in Dublin. Die Bulle se direkteur van Rugby, Jake White, het weer gevra Springbokke wat oorsee speel moet na Suid-Afrika terugkeer om die plaaslike spel te versterk:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-819-dollar-56-sent. Die prys van goud is twee-duisend-287-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-15-sent per vat.
# En, die eerste man wat ‘n geneties gemodifiseerde nier van ‘n vark ontvang het, is uit die hospitaal ontslaan. Die 62-jarige Richard Slayman van Weymouth is huis toe gestuur twee weke na die baanbreker operasie in ‘n hospitaal in Massachusetts. Orgaanoorplantings van geneties gemodifiseerde varke het in die verlede misluk. Die sukses van hierdie prosedure tot dusver is egter deur wetenskaplikes bestempel as ‘n geskiedkundige mylpaal. Slayman het gesukkel met ernstige niersiekte, maar na die oorplanting benodig hy nie meer dialise nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….