Nuus 17:00
BULLETIN 3 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC is skuldig bevind aan minagting van hof vir die weerhouding van sy kaderontplooiings-rekords
# President Ramaphosa onderteken die Wysigingswetsontwerp op Regsake
# En, sokker: Die voormalige president van die Spaanse beheerliggaam word in hegtenis geneem vir korrupsie
# Die DA verwelkom ‘n uitspraak van die Hooggeregshof in Johannesburg, wat die ANC en sy sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, skuldig bevind aan minagting van die hof. Dit volg nadat die ANC nie die rekords van sy kaderontplooiings-komitee bekend gemaak het nie. Dit dateer terug na 2013 toe president Cyril Ramaphosa die voorsitter was. Die hof het die ANC beveel om die DA se koste te betaal en die inligting binne 15 dae te verskaf. Leon Schreiber van die DA moedig Ramaphosa aan om by die uitspraak te hou:
Ramaphosa het intussen die Wysigingswetsontwerp op Regsake van 2023 onderteken, gemik op die verbetering van verskeie aspekte van die regstelsel onder die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling. Dit sluit in die bemagtiging van die Hoofmeester vir toesig oor die Meesters van die Hooggeregshof en die skrapping van strafregtelike rekords vir sekere oortredings, insluitend dié rondom Covid-19-ramptoestandregulasies. Die wetsontwerp bevat ook maatreëls teen korrupsie in die privaat sektor, strawwe teen vals verklarings in aansoeke om beskerming teen huishoudelike geweld, en die herroeping van die algemene wet op laster.
# Die taxi-vereniging, SANTACO, sal na verwagting sy nuwe aanlyn besprekingstelsel teen die einde van die jaar ten volle ontplooi. Die stelsel laat pendelaars toe om langafstand-reise gerieflik te bespreek. Die aanvanklike projek in KwaZulu-Natal het sukses behaal met pendelaars wat dit voorkeur gegee het. ‘n Woordvoerder, Rebecca Phala, sê egter pendelaars vra steeds verbeterde werking:
# Sokker: Die voormalige president van die Spaanse beheerliggaam, Luis Rubiales, is in hegtenis geneem op aanklagte van korrupsie. Hy word beskuldig van die ontvang van onwettige kommissie terwyl hy onderhandel het oor die aanbied van die Spaanse Superbeker-kompetisie in Saoedi-Arabië. BBC Sport berig hy is aangekeer toe hy teruggekeer het van ‘n reis na die Dominikaanse Republiek. Rubiales staan ook tereg vir seksuele aanranding nadat hy ‘n lid van Spanje se vrouespan, Jenni Hermoso, gesoen het nadat hulle verlede jaar die Wêreldbeker gewen het. Hy is toe gedwing om te bedank.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-751-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-273-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-51-sent per vat.
# En ten slotte: Die publiek sal in die komende Britse somer wyle koningin Elizabeth se gunsteling woning, Balmoral-kasteel, kan besoek. Koning Charles het begeleide toere aangekondig van die kasteel in Aberdeenshire in die Skotse Hoogland vir vyf weke vanaf 1 Julie. Kaartjies kos twee-duisend-300-rand elk, en styg tot drie-duisend-500-rand met middagtee ingesluit. Net 40 besoekers sal per dag toegelaat word. Volgens Balmoral-kasteel se webblad sal dit die eerste toere van dié soort wees vandat die gebou in 1855 voltooi is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….