Nuus 17:00
BULLETIN 28 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die skrapping van Gauteng se e-tolstelsel word in die Staatskoerant afgekondig
# Die soektog word verskerp na die moord op vyf mense in Houtbaai
# En, rugby: Drie Bokke anker die Haaie se skrum teen Edinburgh
# Gauteng se e-tolstelsel sal op 12 April geskrap word. Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, het die kennisgewing vandag in die Staatskoerant publiseer. Dit bepaal die tol-verklaring op dele van die N1, N3, N4, N12 en R21 sal op dié datum onttrek word. Daar is geen besonderhede oor terugbetalings of wat met motoriste se skuld sal gebeur nie.
# Speurders van die Wes-Kaapse Eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdade soek na aanvallers in ‘n skietvoorval in Houtbaai, Kaapstad, waarin vyf mense dood en vyf gewond is. Aanvallers het omstreeks sewe-uur gisteraand losgebrand by ‘n huis en op ‘n geparkeerde motor in Molokwane-straat, Imizamo Yethu. Die motief is nog onbekend. Die LUR vir Gemeenskapsveiligheid en Polisie-oorsig, Reagan Allen, het die geweld veroordeel:
# Oudpresident Jacob Zuma het die sesde regsnederlaag gely in sy veldtog om die staatsaanklaer Billy Downer en die joernalis Karyn Maughan privaat te vervolg. News24 berig die Appèlhof het Zuma se aansoek afgekeur weens ‘n gebrek aan buitengewone omstandighede. Drie volbank-uitsprake het bevestig Zuma se poging om Downer en Maughan aan te kla, is ‘n misbruik van prosesse in sy strategie om nie verhoor te word vir wapentransaksiekorrupsie nie. Die Hooggeregshof in KwaZulu-Natal het verlede week Zuma se jongste poging gestuit om Downer as aanklaer te verwyder.
# Die Kabinet verwelkom die resolusie van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies wat ‘n onmiddelike skietstaking in die Gazazstrook tydens Ramadan eis, asook die vrylating van alle gyselaars. Die regering sê dit bewys sy leierskap as die eerste land wat menseregte-vergrype in Palestina teengestaan het, en glo die skietstilstand sal die vloei van humanitêre bystand vergemaklik. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het aan die media gesê die bindende aard van die resolusie toon die internasionale gemeenskap se vasberadenheid om die voortslepende krisis in Gaza op te los:
# Rugby: Die Springbokke Ox Nché, Vincent Koch en Bongi Mbonambi sal die Haaie se skrum anker in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Edinburgh in Durban. Die hoofafrigter, John Plumtree, het Ntuthuko Mchunu met Koch vervang, terwyl Hanru Jacobs plek maak vir Nché. Dit is van die verskeie veranderings aan die span wat Ulster verlede naweek geklop het. Koch het sy spanmaats gewaarsku die Skotse span gaan heelwat anders lyk as die een wat in Kaapstad teen die Stormers verloor het toe ‘n aantal van hul toetsspelers gerus het.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-754-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-214-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….